Welkom by PENdit.za

Vir talentvolle Afrikaanse skrywers wat graag hul werk wil publiseer en met ander wil deel

Wat bied ons aan?

Wil jy graag as skrywer jou manuskrip in boekvorm sien? Drome word waar by PENdit.za. Afgesien van ons verskeie dienste, kan ons jou boek publiseer. Ons sal jou boek proeflees, redigeer en selfs die uitleg hanteer en buiteblad ontwerp. Ons kostes vergelyk uitstekend met die mark aangesien ons ons pryse kan aanpas. PENdit.za se publikasie – VLERKE – is deur ons lede as een van die beste publikasies vir 2018 aangewys. Dus is jou manuskrip in goeie hande.

Blootstelling aan Uitgewers

Ons lede word in die kollig geplaas en aan groot uitgewers bekendgestel. Dus is ons goedgekeurde lede en hul skryfwerk van hoogstaande gehalte.
Ons blad word aan verskeie platforms gekoppel om jou meer blootstelling te gee. Dus stel ons voor dat ALLE SKRYFWERK eers geproeflees word alvorens dit op hierdie blad verskyn. PENdit.za Prima-lede trek groot voordeel uit ons Skrywersprofielblad.
Registreer by ons en sien jou skrywe pronk op 'n rak!

Slypskool

Ons bied 'n slypskool aan met unieke modules om jou as skrywer te slyp.
PENdit se aanbieders is nie net gewillige leermeesters nie, maar ook goeie skrywers wat met raad en daad dwarsdeur die slypskool advies verleen. Werkstukke word verskaf waar lede hulle nuutgevonde kennis kan toets. Hulle word ook aan hierdie werkstukke geëvalueer.
Daar word van lede verwag om aan die einde van die slypskool ʼn kortverhaal van ongeveer 1,500 woorde in te handig. Die beste verhaal kom in aanmerking vir publikasie.

Publikasies

Stories, kortverhale en enige ander manuskripte kan gepubliseer word onder die vaandel van PENdit.za. Ons plaas ook gekeurde werke van ons lede op hierdie blad.
Kompetisies word gereeld geplaas. Wenners van hierdie kompetisies se werk word gepubliseer deur PENdit.za in bundels soortgelyk aan ons eerste Keurbundel – VLERKE – wat op ons webblad geadverteer word. Erkenning word ook aan lede verleen in die vorm van ’n besonderse sertifikaat.
Ander instansies wat soortgelyke kompetisies bied waar prysgeld en ander pryse aangebied word, word ook op hierdie webblad geadverteer. Hou gerus ons plasings dop.

Ons PENdit.za Span

Ons stel ons graag aan jou voor.

Kommentaar van ons lede

Hierdie is die BESTE webblad om jouself bloot te stel aan uitgewers en ook om jou werk te publiseer. Ek het geweldig baat gevind by hul slypskool - Belinda Blignaut

img

Ons slypskool maak gebruik van die beste module wat verskeie onderwerpe dek, onder andere, beplanning van verhaal, vertrekpunte, persoonsvertellers, karakters en dialoog - om net 'n paar te noem. Verryk jou kennis - laat jou pen praat.

Ronel Dunn & Bets Koen - Slypskoolsaamstellers en -aanbieders

PENdit.za Nuus

Lees net goeie nuus hier. Kompetisies, uitdagings en brokkies sal gereeld hier verskyn.

Afrikaanse stories – YouTube – SES DAE


Afrikaanse stories – YouTube Kanaal – ons promosievideo vir PENdit.za se keurbundel, Ses Dae.

 

 

Om hierdie keurbundel te bestel, kliek hier:http://pendit.co.za/afrikaanse-boeke-deur-talentvolle-afrikaanse-skrywers/

LEES MEER, kliek hier: http://pendit.co.za/2019/03/12/afrikaanse-boek-ses-dae/

Facebook: https://www.facebook.com/groups/1916633848454903/

Afrikaanse boek – SES DAE – maak opslae


Afrikaanse Boek, die keurbundel – Ses Dae – maak opslae.

Ses Dae – R180.00 (posgeld ingesluit)

KEURBUNDEL

Ons is trots om ons tweede keurbundel voor te stel en net betyds vir die wontermaande wat op ons wag! Al wat jy nodig het is jou bundel, Ses Dae, warm sjokolade en ‘n kaggelvuur.

Hierdie bundel bevat ’n versameling uitsonderlike kortverhale deur talentvolle skrywers met die natuurelemente as tema. Die mens is deurlopend deel van elke verhaal, net soos in die natuur.
In ses dae is die hemel en die aarde geskape. Die mens het opdrag gekry om dit te bewoon, te bewerk en te bewaar.
Binne dié opdrag beleef mens en natuur ’n simbiose deurvleg met lief en leed.

Maar daar is immer ‘n slang in die gras …

 

UIT DIE PEN VAN:

 

Johnel Ras (Duiwelsbos): 

Gilda kan die volmaan sien glinster in haar Dorothy-skoene voor sy met selfvertroue Duiwelsbos binnestap. Sy het nog een kans vanaand oor.

‘n Flits is nie eers nodig nie. Strale maanlig val mistiek deur takke en blare wat ‘n kaleidoskoop van dansende lig oor die sagte plantvloer gooi. Vingertakke gryp aan haar wit kantrok hoe dieper sy in Duiwelsbos loop. Aanvanklik ontstrengel sy dit eers, maar loop later net doelgerig voort. Sy maak wel seker om nie feëtjiekringe te versteur of om op sampioene te trap nie.

Wilhelm van den Hoven (Bosaardig):

Sy was so opgewonde soos ‘n voëltjie wat so pas uit sy kou ontsnap het toe sy die ou straatskilder se skilderye eenkant op die sypaadjie raakloop. Al die skilderye was dieselfde toneel. ‘n Beeldskone meisie wat viool in die woud speel in die kortste rokkie denkbaar, amper versluier deur die mis. Sy wou eenvoudig die skildery hê. “Sy praat met my,” het sy gesê. Sommige mense het net daardie vermoë. “Wat sê sy,” het ek nog gevra. “Ek weet nog nie,” het sy gesê. “Ek moet eers wag dat sy klaarpraat.”

Bets Koen (‘n Nuwe woestyn):

Die stofstorm, soos sovele ander sedert Kerneels se aankoms, bedaar uiteindelik. Kerneels staar deur die venster na die praglandskap van die Namib. Duine is vervorm, ’n heel nuwe kaleidoskoop van kleure is oopgewaai. Die droë kameeldoringboom staan steeds fier afgeëts teen die rooibruin duine in die agtergrond. Braak, wrede, naak landskap. Tog sag op die oog, vergewend, net soos die wind wat kalmeer en ’n nuwe skoonheid laat ontwaak uit die eens stormagtige sand.

Nico Schamrel (Reënoffer):

Daar was ’n andersheid in die lug. Die oggend was kouer as gewoonlik. ’n Wolk wat laag hang. Sagte Wolkombers oor die veld. Teen laatmiddag was dit toegetrek. Almal in die huisie is stil. Die dood se hartseer kuier saam met familie en vriende. Stef kom ook met ’n skottel vol vleis. Offerande? Is dit hoekom hulle altyd die dood vryspring? Offerande, oorskietvleis, aalmoese.

 

Sanchen Lambrecht (Wolke van glorie):

Die wiele van hul strydwaens sak weg in modderige water. Farao en sy manne beur voort. Watermassas klots om hul. Die perde runnik beangs, spring heen en weer, vorentoe en dan weer op hul agterpote. Hul geswete lywe se stink vermeng met bloed en water. Rotse kloof strydwaens middeldeur. Stukke hout dryf met die op-af beweging van water. Mense gil, maar word verdoof deur wind- en water geroesemoes. Die donker wolke is byna teen hulle. Die wolke spoeg venyn en wraak uit in die vorm van stortreën en blitse.

 

Jacolien Odendaal (Bergbewoner):

Terwyl hulle so sit besluit Patrick en Theuns om net ’n bietjie hoër teen die rots op te klim. Dan sien hulle dit … die blink oë van ’n ondier. Hulle kan glad nie in die donker sien watter soort dier dit is nie, maar hulle weet net hulle moet terug grot toe om die ander te gaan waarsku.

 

Jaco Groenewald (Soutwater evangelie):

Dit is eintlik sy eie skuld. Hy moes nooit so lief geraak het vir haar nie. Hy het vergeet van Daniel teen die wêreld. In die leeukuil, selfontwerp en plagiaatvry, gepatenteerd en al. Hy sug verslae.

Daniel tel sy kop op, staan op en stap tussen die strandsangers in. Eers begin sy voete, sy hande en uiteindelik sy heupe. Hy beweeg saam, sonder ‘n geluid. Hy begin die wysie eers neurie, dan maak hy sy bas oop en sing uit volle bors saam. Hy voel die groep se energie lig en skielik is elke oog op hom. Hy voel verleë, tog trots.

 

Sanet van der Westhuizen (Wolke van verlange):

Sy kan onthou hoe sy as klein dogtertjie op die naat van haar rug vir die wolke gelê en kyk het. Elkeen het anders gelyk en daar was soveel figure wat sy daarin kon erken. Wolke het haar nog altyd bekoor. Sy het as kleindogtertjie gedroom van yslike spookasem wolke wat op hulle grasperk land, dan klim sy op en hulle styg met haar op tot bo in die blou hemel.

 

Nico Schamrel (Die vuurtoringwagter se vrou):

Uit die diepte van ’n soutkuil kyk sy na bo. Die wit wolk bokant die swart sak. Asem, asem, asem.

Die see trek terug en met sy grootste golf ruk hy haar na bo, stuur haar na die strand met ’n swart vullissak in haar hand. Sy pluk die sak oop. Liewe Here, kan dit wees?

Gryp daarna, handdoek om die blou gestalte. Gee asem Here, smeek sy.

Hy het.

Wat wil jy die graagste hê? vra die Stille Oseaan, vertel my.

’n Godelike wonderwerk.

 

Marita Roebert (Dis die wind my kind):

My kind het homself aan die slaap gehuil. Ek voel asof ek hom verraai het, en ek loop met ‘n swaar hart terug kamer toe. In die laaste oomblikke voordat ek weer in die diepte wegsak hoor ek hoe die huil van die wind vannag soveel harder loei – ‘n klank wat nie op aarde behoort nie. Dit voel soos minute later toe die bloedstollende gil die lug in twee skeer, alvorens ek nog kan opspring is hy daar en gryp die handjies so hard aan my nagrok dat dit voel of dit in my nek insny.

 

Bets Koen (Jy, woestyn):

’n Kleurvolle vlerk vang ’n sonstraal op en weerkaats dit in my oë. ’n Kolibrie, (hummingbird), ook ’n sonvoël genoem, sit reg bokant my. Die sonvoël, altyd soekend na nektar diep binne-in die geheimenis van ’n blomkelk. Die soetste nektar is mos daar, veilig toegevou in die hart van die blom.

Dit herinner my aan die ewige soektog na die goeie en die mooi in elke dag. Die vraag kom onverwags by my op: mens, is jy ’n aasvoël of ’n sonvoël? Sien jy net die sleg raak, gereed om weg te dra, te verskeur of af te breek? Of dra jy die soet in jou rond, die mooi, die prag wat net deur jouself in jou eie woestyn gekweek kan word?

 

Maritza du Preez (Kreupelbos):

Lika hou nie van uile nie. Hulle maak jou net hartseer. Die laaste keer wat een op hul dak kom sit het, was eers haar ma en toe haar boetie dood. Sy wonder wat Rooi-Jan met Buks gedoen het. Die eggo’s van sy stem het nog lank tussen die voëls se woedende knetter bly raas. Toe is hulle weg. Die trane brand in Lika se keel.  Sy sal hulp moet gaan soek. Die donker het reeds die son begin opeet. Sy sal ‘n ander pad moet om gaan. Die wolke skuif stadig oor die toppe verby. Na haar voete die grond raak, hardloop sy vinniger as die wind.

 

Die volgende kortverhale verskyn in die keurbundel:

Geraamtes in die bos – Marelize Keyter

Bergbewoner – Jacolien Odendaal

Wolke van glorie – Sanchen Lambrecht

Water soek altyd land – Johnel Ras

Bruidsbos – Nico Schamrel

Die berg is net te erg – Wilhelm vd Hoven

Soutwater evangelie – Jaco Groenewalt

Onlosmaakbaar – Marita Roebert

Maria, die wolk en die Here – Riana Barnard Matthee

Ek vergewe jou – Sanet vd Westhuizen

’n Nuwe woestyn – Bets Koen

Spikkels, die bobbejaan – Riaan Palmer

Reënoffer – Nico Schamrel

‘n Berg vol waansin – Maritza du Preez

Vandag versit ek net wolke – Liza Daniells

As die bos begin gesels – Jacolien Odendaal

Hou my dop – Wilhelm vd Hoven

Die vuurtoringwagter se vrou – Nico Schamrel

Jy, woestyn – Bets Koen

Ek slaan my oë op na die berge – Amanda Boucher

Pa, waar kom wolke vandaan, Pa? – Wilhelm vd Hoven

Die Swerwende Moskee – Johnel Ras

Die Bosgod van Debengeni – Bets Koen

Scarpa Zodiac Plus GTX – Wilhelm vd Hoven

Treurbos – Nico Schamrel

Dinge in die bos – Helena van Heerden

By Mooirivier se brug – Nico Schamrel

Duiwelsbos – Johnel Ras

Wolke van verlange – Sanet vd Westhuizen

Genade – Bets Koen

Dominus Custodiat Te – Nico Schamrel

Kreupelbos – Maritza du Preez

Kilimanjaro – Evanthe Schurink

Sandtrapper – Nico Schamrel

Verbondsberge – Jaco Groenewald

Die wind sal hom bring – Riana Barnard Mathee

Dis die wind, my kind – Marita Roebert

Knysna wonderwerk – Stephan Uys

Stofduiwel – Frans Koekemoer

Bosaardig – Wilhelm vd Hoven

Ek is – Bets Koen

Liefde in die wind – Riana Barnard Matthee

 

BESTEL HIERDIE BOEK:http://pendit.co.za/afrikaanse-boeke-deur-talentvolle-afrikaanse-skrywers/

 

 

Hoe begin jy om ’n boek te skryf?



Hoe begin jy om ’n boek te skryf?

Begin by die begin en volg hierdie goeie raad van ’n bekende skrywer, Rachel du Bois. Ons plaas dit met erkenning en krediet en het sekere inligting van belang bygevoeg.

  1. Jy moet eerstens weet in watter genre jy wil skryf. Daar word onderskeid gemaak in genrefiksie :
  • Misdaad-fiksie
  • Fantasie
  • Wetenskapfiksie
  • Rillers
  • Romantiese ontspanningsfiksie – romanse en liefdesromans verskil van mekaar
  • Historiese romans
  • Chick-lit
  • Christelike romans
  • Kinder-en jeugboeke
  • Poësie

Gaan lees meer hieroor in Die Afrikaanse Skryfgids –  saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn. Neem ook deel aan ’n slypskool soos wat PENdit.za aanbied. Vra raad – dit is gratis!

  1. Skep ’n raamwerk vir jou storie met die volgende kolomme:
  • Hoofkarakter/s – hier skryf jy alles oor jou hoofkarakter neer.
  • Sub-karakters – Doen dieselfde vir soos bo vir elke sub-karakter en maak  seker dat jy weet watter rol hy/sy/hulle gaan speel in die storie. Hoe meer karakters hoe meer verwikkeld raak jou storie en hoe meer moet jy kophou.
  • Plek waar jou storie afspeel – Land, dorp, stad, ens.
  • Tyd as dit nodig is, byvoorbeeld: vir ’n historiese roman – jaar. Let op na die seisoene / kleredrag / geskiedkundige gebeure.

Hoekom is ’n raamwerk nodig?

  • Jy leer jou karakters kenJy moet hulle soos die palm van jou hand ken, elkeen van hulle – waarvan hulle hou, wat hulle haat, wat hulle dryf, waar hulle vandaan kom, waar hulle woon en werk, hoe hulle grootgeword het, wie belangrik was in hul vroeër jare, wat hul beroep is, waarheen hulle mik, waaroor hulle droom, wat keer of weerhou hulle daarvan om hul droom te bereik, vir wie is hulle lief, hoe lyk hulle, wat haat hulle, wat irriteer hulle, ens. Jy kan nie met halfgebakte karakters ’n storie skep nie. Jy gaan in elkeen van hulle se kop inklim en hulle word terwyl jy skryf. Jy gaan dink, doen, sê, voel, ruik, sien, hoor en proe wat hulle dink, doen, sê, voel, ruik, sien, hoor en proe.
  • Dit skep vir jou ’n prentjie van die mense waaroor jou storie gaan
  • Dit sê vir jou teen watter agtergrond jou storie afspeel
  • Dit sê vir jou waar en wanneer jou storie afspeel
  • Dit skep die ruggraat van jou storie – jy moet weet waar wil jy met die storie heen
  • Dis ’n uiters belangrike verwysingsdokument– dit sal bv. keer dat jy jou hoofkarakter nie aan die begin van jou storie Piet Vermaak noem en later deur die storie Peet Veldskoen nie. Dit sal keer dat jy nie sê die storie speel in Braamfontein af maar later word dit Bloemfontein nie.
  1. Besluit hoe lankjou boek gaan wees – kyk op die internet na kort stories, romans, sagas, ens. Daar is klaarblyklik nie eenstemmigheid oor die hoeveelheid woorde nie. Tradisionele uitgewers soos Lapa Uitgewers vereis bv. 44000 woorde vir hul Romanza reeks en 70000 of meer woorde vir ’n roman, maar daar bestaan nie konsensus oor lengte nie. Jy kan dus jou boek so lank of so kort maak as wat jy wil omdat jy dit self gaan uitgee.
  2. Skryf: jou woordeboek (HAT, Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls) is langs jou op jou tafel, want jy kan nie ’n storie skryf wat vol spel- en taalfoute is nie. Om die rede offer PENdit.za proeflees dienste, asook teksredigering om jou van hulp te wees.
  • Waaroor gaan jou storie?
  • Oor wie gaan jou storie?
  • Wat gebeur hier?
  1. Dis belangrik dat jy van die begin af let op die tegniese aspekte van jou dokument:
  • Skryf altyd op A4 grootte
  • Skryf in Times New Roman .12pt font
  • Skryf in dubbelspasiëring
  • Moenie jou dokument “format” nie.
  • Begin elke eerste paragraafvan ’n hoofstuk teen die kantlyn en keep van daar af elke daaropvolgende paragraaf in tot aan die einde van die hoofstuk.
  • Gebruik die Ascii tabel vir kappies, deeltekens, koppeltekens, ens. Jy sal dit gratis van die internet kan aflaai. E-boeke vereis dit. Maak ook gebruik van ’n elektroniese spel-program soos WSpel (gratis vanaf die internet en die skakel verskyn onder die pos :http://pendit.co.za/slypskool-vir-skrywers-unieke-modules-vir-skrywers/hulpbronne-vir-skrywers-skakels-na-hulpbronne-vir-talentvolle-skrywers/
  • Jy kan regmaak soos wat jy skryf.
  • Skryf elke dag ten minste 1000 woorde.
  • Kry vir jou ’n plek waar dit stil en rustig is en waar jy kan konsentreer.
  • Maak klaar waarmee jy begin het.
  1. Lees en verstaan die genre waarin jy wil skryf. Daar is uitstekende boeke wat maklik verstaanbaar is. Ek beveel die volgende boeke aan vir romantiese ontspanningsfiksie:

Writing fiction for Dummies – Randy Ingermanson & Peter Economy

Writing a Romantic Novel – Donna Baker

Dis uiters belangrik dat jy boeke gaan lees oor hoe om te skryf.  Daar is baie uitstekende boeke oor hoe om te skryf. Ek beveel die volgende boeke aan:

Die Afrikaanse Skryfgids –  saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn

How to structure your novel – K M Weiland

Write your novel from the middle – James Scot Bell

  1. Besoek die webwerwe van bekende uitgewers soos Lapa, Human en Rousseau, NB Uitgewers, en vergewis jouself van hul vereistes. Al gaan jy jou boek self uitgee, is daar universeel aanvaarde reëls by die skryf van boeke. Onthou PENdit.za bied dienste om die pad saam met jou te loop van begin tot einde – ons kan jou help om jou boek te druk as uitgewer.
  2. Lees alles wat jy in die hande kan kryLees die boeke van skrywers wat skryf wat jy wil skryf.
  • Kyk wat skryf hulle.
  • Kyk hoe skryf hulle.
  • Kyk na hul taalgebruik– jy wil ’n kwaliteit produk op die rak sit, nie een wat in SMS taal geskryf is nie. Weereens die belangrike aspek van proeflees!
  • Kyk hoe lyk hul PENdit.za kan jou boek se omslag ontwerp en die boek uitleg doen!
  • Kyk na die agterbladteks want jy gaan dit nodig kry vir jou eie boek. Selfs hiermee is PENdit.za van goeie hulp – dít is wat jou boek verkoop. Ons beskik beslis oor die nodige ondervinding.
  1. Besluit of jy die boek wil laat druk. Vind solank uit wat dit sal kos. Onthou dat jy jou boek self wil uitgee en dit sluit bemarking en verspreiding in. As jy die boek laat druk, sal jy dit self moet versprei. Is jy bereid om die ekstra tyd en geld aan bestellings en posgeld te spandeer?

VRAAG: Vra jouself die vraag: wat gaan met die harde boeke gebeur as jou boek nie verkoop nie?

 

ONS DIENSE:http://pendit.co.za/skrywers-dienste-vir-proeflees/

 

FACEBOOK: https://www.facebook.com/groups/1916633848454903/