Welkom by PENdit.za

Vir talentvolle Afrikaanse skrywers wat graag hul werk wil publiseer en met ander wil deel

Afrikaanse boek – SES DAE – maak opslae

Afrikaanse boek – SES DAE – maak opslae

Afrikaanse boek – SES DAE – maak opslae


Afrikaanse Boek, die keurbundel – Ses Dae – maak opslae.

Ses Dae – R180.00 (posgeld ingesluit)

KEURBUNDEL

Ons is trots om ons tweede keurbundel voor te stel en net betyds vir die wontermaande wat op ons wag! Al wat jy nodig het is jou bundel, Ses Dae, warm sjokolade en ‘n kaggelvuur.

Hierdie bundel bevat ’n versameling uitsonderlike kortverhale deur talentvolle skrywers met die natuurelemente as tema. Die mens is deurlopend deel van elke verhaal, net soos in die natuur.
In ses dae is die hemel en die aarde geskape. Die mens het opdrag gekry om dit te bewoon, te bewerk en te bewaar.
Binne dié opdrag beleef mens en natuur ’n simbiose deurvleg met lief en leed.

Maar daar is immer ‘n slang in die gras …

 

UIT DIE PEN VAN:

 

Johnel Ras (Duiwelsbos): 

Gilda kan die volmaan sien glinster in haar Dorothy-skoene voor sy met selfvertroue Duiwelsbos binnestap. Sy het nog een kans vanaand oor.

‘n Flits is nie eers nodig nie. Strale maanlig val mistiek deur takke en blare wat ‘n kaleidoskoop van dansende lig oor die sagte plantvloer gooi. Vingertakke gryp aan haar wit kantrok hoe dieper sy in Duiwelsbos loop. Aanvanklik ontstrengel sy dit eers, maar loop later net doelgerig voort. Sy maak wel seker om nie feëtjiekringe te versteur of om op sampioene te trap nie.

Wilhelm van den Hoven (Bosaardig):

Sy was so opgewonde soos ‘n voëltjie wat so pas uit sy kou ontsnap het toe sy die ou straatskilder se skilderye eenkant op die sypaadjie raakloop. Al die skilderye was dieselfde toneel. ‘n Beeldskone meisie wat viool in die woud speel in die kortste rokkie denkbaar, amper versluier deur die mis. Sy wou eenvoudig die skildery hê. “Sy praat met my,” het sy gesê. Sommige mense het net daardie vermoë. “Wat sê sy,” het ek nog gevra. “Ek weet nog nie,” het sy gesê. “Ek moet eers wag dat sy klaarpraat.”

Bets Koen (‘n Nuwe woestyn):

Die stofstorm, soos sovele ander sedert Kerneels se aankoms, bedaar uiteindelik. Kerneels staar deur die venster na die praglandskap van die Namib. Duine is vervorm, ’n heel nuwe kaleidoskoop van kleure is oopgewaai. Die droë kameeldoringboom staan steeds fier afgeëts teen die rooibruin duine in die agtergrond. Braak, wrede, naak landskap. Tog sag op die oog, vergewend, net soos die wind wat kalmeer en ’n nuwe skoonheid laat ontwaak uit die eens stormagtige sand.

Nico Schamrel (Reënoffer):

Daar was ’n andersheid in die lug. Die oggend was kouer as gewoonlik. ’n Wolk wat laag hang. Sagte Wolkombers oor die veld. Teen laatmiddag was dit toegetrek. Almal in die huisie is stil. Die dood se hartseer kuier saam met familie en vriende. Stef kom ook met ’n skottel vol vleis. Offerande? Is dit hoekom hulle altyd die dood vryspring? Offerande, oorskietvleis, aalmoese.

 

Sanchen Lambrecht (Wolke van glorie):

Die wiele van hul strydwaens sak weg in modderige water. Farao en sy manne beur voort. Watermassas klots om hul. Die perde runnik beangs, spring heen en weer, vorentoe en dan weer op hul agterpote. Hul geswete lywe se stink vermeng met bloed en water. Rotse kloof strydwaens middeldeur. Stukke hout dryf met die op-af beweging van water. Mense gil, maar word verdoof deur wind- en water geroesemoes. Die donker wolke is byna teen hulle. Die wolke spoeg venyn en wraak uit in die vorm van stortreën en blitse.

 

Jacolien Odendaal (Bergbewoner):

Terwyl hulle so sit besluit Patrick en Theuns om net ’n bietjie hoër teen die rots op te klim. Dan sien hulle dit … die blink oë van ’n ondier. Hulle kan glad nie in die donker sien watter soort dier dit is nie, maar hulle weet net hulle moet terug grot toe om die ander te gaan waarsku.

 

Jaco Groenewald (Soutwater evangelie):

Dit is eintlik sy eie skuld. Hy moes nooit so lief geraak het vir haar nie. Hy het vergeet van Daniel teen die wêreld. In die leeukuil, selfontwerp en plagiaatvry, gepatenteerd en al. Hy sug verslae.

Daniel tel sy kop op, staan op en stap tussen die strandsangers in. Eers begin sy voete, sy hande en uiteindelik sy heupe. Hy beweeg saam, sonder ‘n geluid. Hy begin die wysie eers neurie, dan maak hy sy bas oop en sing uit volle bors saam. Hy voel die groep se energie lig en skielik is elke oog op hom. Hy voel verleë, tog trots.

 

Sanet van der Westhuizen (Wolke van verlange):

Sy kan onthou hoe sy as klein dogtertjie op die naat van haar rug vir die wolke gelê en kyk het. Elkeen het anders gelyk en daar was soveel figure wat sy daarin kon erken. Wolke het haar nog altyd bekoor. Sy het as kleindogtertjie gedroom van yslike spookasem wolke wat op hulle grasperk land, dan klim sy op en hulle styg met haar op tot bo in die blou hemel.

 

Nico Schamrel (Die vuurtoringwagter se vrou):

Uit die diepte van ’n soutkuil kyk sy na bo. Die wit wolk bokant die swart sak. Asem, asem, asem.

Die see trek terug en met sy grootste golf ruk hy haar na bo, stuur haar na die strand met ’n swart vullissak in haar hand. Sy pluk die sak oop. Liewe Here, kan dit wees?

Gryp daarna, handdoek om die blou gestalte. Gee asem Here, smeek sy.

Hy het.

Wat wil jy die graagste hê? vra die Stille Oseaan, vertel my.

’n Godelike wonderwerk.

 

Marita Roebert (Dis die wind my kind):

My kind het homself aan die slaap gehuil. Ek voel asof ek hom verraai het, en ek loop met ‘n swaar hart terug kamer toe. In die laaste oomblikke voordat ek weer in die diepte wegsak hoor ek hoe die huil van die wind vannag soveel harder loei – ‘n klank wat nie op aarde behoort nie. Dit voel soos minute later toe die bloedstollende gil die lug in twee skeer, alvorens ek nog kan opspring is hy daar en gryp die handjies so hard aan my nagrok dat dit voel of dit in my nek insny.

 

Bets Koen (Jy, woestyn):

’n Kleurvolle vlerk vang ’n sonstraal op en weerkaats dit in my oë. ’n Kolibrie, (hummingbird), ook ’n sonvoël genoem, sit reg bokant my. Die sonvoël, altyd soekend na nektar diep binne-in die geheimenis van ’n blomkelk. Die soetste nektar is mos daar, veilig toegevou in die hart van die blom.

Dit herinner my aan die ewige soektog na die goeie en die mooi in elke dag. Die vraag kom onverwags by my op: mens, is jy ’n aasvoël of ’n sonvoël? Sien jy net die sleg raak, gereed om weg te dra, te verskeur of af te breek? Of dra jy die soet in jou rond, die mooi, die prag wat net deur jouself in jou eie woestyn gekweek kan word?

 

Maritza du Preez (Kreupelbos):

Lika hou nie van uile nie. Hulle maak jou net hartseer. Die laaste keer wat een op hul dak kom sit het, was eers haar ma en toe haar boetie dood. Sy wonder wat Rooi-Jan met Buks gedoen het. Die eggo’s van sy stem het nog lank tussen die voëls se woedende knetter bly raas. Toe is hulle weg. Die trane brand in Lika se keel.  Sy sal hulp moet gaan soek. Die donker het reeds die son begin opeet. Sy sal ‘n ander pad moet om gaan. Die wolke skuif stadig oor die toppe verby. Na haar voete die grond raak, hardloop sy vinniger as die wind.

 

Die volgende kortverhale verskyn in die keurbundel:

Geraamtes in die bos – Marelize Keyter

Bergbewoner – Jacolien Odendaal

Wolke van glorie – Sanchen Lambrecht

Water soek altyd land – Johnel Ras

Bruidsbos – Nico Schamrel

Die berg is net te erg – Wilhelm vd Hoven

Soutwater evangelie – Jaco Groenewalt

Onlosmaakbaar – Marita Roebert

Maria, die wolk en die Here – Riana Barnard Matthee

Ek vergewe jou – Sanet vd Westhuizen

’n Nuwe woestyn – Bets Koen

Spikkels, die bobbejaan – Riaan Palmer

Reënoffer – Nico Schamrel

‘n Berg vol waansin – Maritza du Preez

Vandag versit ek net wolke – Liza Daniells

As die bos begin gesels – Jacolien Odendaal

Hou my dop – Wilhelm vd Hoven

Die vuurtoringwagter se vrou – Nico Schamrel

Jy, woestyn – Bets Koen

Ek slaan my oë op na die berge – Amanda Boucher

Pa, waar kom wolke vandaan, Pa? – Wilhelm vd Hoven

Die Swerwende Moskee – Johnel Ras

Die Bosgod van Debengeni – Bets Koen

Scarpa Zodiac Plus GTX – Wilhelm vd Hoven

Treurbos – Nico Schamrel

Dinge in die bos – Helena van Heerden

By Mooirivier se brug – Nico Schamrel

Duiwelsbos – Johnel Ras

Wolke van verlange – Sanet vd Westhuizen

Genade – Bets Koen

Dominus Custodiat Te – Nico Schamrel

Kreupelbos – Maritza du Preez

Kilimanjaro – Evanthe Schurink

Sandtrapper – Nico Schamrel

Verbondsberge – Jaco Groenewald

Die wind sal hom bring – Riana Barnard Mathee

Dis die wind, my kind – Marita Roebert

Knysna wonderwerk – Stephan Uys

Stofduiwel – Frans Koekemoer

Bosaardig – Wilhelm vd Hoven

Ek is – Bets Koen

Liefde in die wind – Riana Barnard Matthee

 

BESTEL HIERDIE BOEK:http://pendit.co.za/afrikaanse-boeke-deur-talentvolle-afrikaanse-skrywers/

 

 

admin

1 comment so far

Afrikaanse stories – Youtube – SES DAE – PENdit.za Posted on7:31 pm - Mar 16, 2019

[…] LEES MEER, kliek hier: http://pendit.co.za/2019/03/12/afrikaanse-boek-ses-dae/ […]

You must be logged in to post a comment