KOPPELTEKEN SE DOEL

Opeenhoping van klinkers – koppelteken noodsaaklik:
In sommige samestellings moet ‘n mens ‘n koppelteken gebruik, byvoorbeeld by opeenhoping van klinkers. As die eerste deel van die samestelling op ‘n klinker eindig en die tweede deel met ‘n klinker begin, kan ‘n mens moontlik die woord verkeerd uitspreek omdat ‘n mens die klinkers saamtrek. Byvoorbeeld:
- gala-aand
- see-eend
- diploma-uitreiking
- radio-uitsending
- kano-onderdeel
- domino-effek
- koste-effektief
Opeenhoping van klinkers in werkwoordsvorme: (meestal) ‘n deelteken:
By sommige werkwoorde wat met ‘n klinker begin, kan daar opeenhoping van klinkers ontstaan in veral die verlede tyd wanneer die vorm van die werkwoord met ge- begin. In sulke gevalle word ‘n deelteken op die eerste letter van die werkwoord gebruik. Byvoorbeeld:
- eindig – die fliek het geëindig
- emigreer – hulle het geëmigreer
- eet – ek het geëet
- integreer – dit is geïntegreer
Koppelteken in samestellings met afkortings
Let wel, as die werkwoord van ‘n afkorting afgelei is, kry dit wel ‘n koppelteken. Byvoorbeeld:
- SMS – ek het ge-SMS
- e-pos – ek het ge-e-pos
Nog ‘n paar voorbeelde van waar ‘n koppelteken nodig is, is by samestellings tussen ‘n afkorting en ‘n ander woord. Byvoorbeeld:
- CD-speler
- 230 V-aansluiting
- 65+-kaart
- 8 mm-kamera
Samestellings met handelsmerke word vas of met ‘n koppelteken geskryf.
Ook as een deel van die samestelling ‘n handelsmerk is, skryf ‘n mens alles aan mekaar. ‘n Mens kan wel ‘n koppelteken gebruik as dit leesbaarheid vergemaklik. Byvoorbeeld:
- Excellêer of Excel-lêer
- Lindtsjokolade of Lindt-sjokolade
- Opelonderdeel of Opel-onderdeel
- As die handelsnaam ‘n spasie het, bly die spasie in die samestelling:
- Die Burgerleser of Die Burger-leser
- Dooie Seerolle of Dooie See-rolle
Vreemde taal + Afrikaans kry ‘n koppelteken
As een deel van die samestelling uit ‘n ander taal kom, en as die deel uit die vreemde taal uit meer woorde bestaan, word die spasie tussen die vreemde woorde behou en word die samestelling met ‘n koppelteken aan die Afrikaanse woord gekoppel. Byvoorbeeld:
- a cappella + koor = a cappella-koor
- ad hoc + komitee = ad hoc-komitee
- a priori + beslissing = a priori-beslissing
- pro Deo + advokaat = pro Deo-advokaat
- eau de cologne + bottel = eau de cologne-bottel
- au pair + kantoor = au pair-kantoor
Die koppelteken as weglaatteken
Wanneer twee samestellings naas mekaar gestel word en hulle bevat identiese dele, kan een van die identiese dele vervang word met ‘n koppelteken. In só ‘n geval funksioneer die koppelteken as weglaatteken. Byvoorbeeld:
- koffie- en teekoppies (‘koffiekoppies en teekoppies’)
- koffiekoppies en -pierings (‘koffiekoppies en koffiepierings’)
- Let op die verskil tussen die volgende soort gevalle:
- sout- en peperpot (‘soutpot en peperpot’), teenoor sout-en-peperstel (‘stel bestaande uit sout en peper’)
- navorsings- en onderrigprogram (‘navorsingsprogram en onderrigprogram’), teenoor navorsing-en-onderrigprogram (‘program oor navorsing en onderrig’)
1 comment so far