Afrikaanse stories deur talentvolle skrywers 

Ons deel graag die volgende Afrikaanse stories, kortverhale en ander publikasies met jou. Hierdie werke is deur PENdit.za en ons proeflees-span goedgekeur en sal moontlik in ons eie toekomstige publikasies verskyn. Indien jy ‘n lid word van PENdit.za sal jou werk ook hier verskyn. Dit plaas ‘n kollig op jou as skrywer en sodoende word jy blootgestel aan groot uitgewers in die bedryf.

TJOEK-TJOEK – Louise van Gass

Die groot houthorlosie in ontvangs se wyser slaan oor na vyfuur. Almal is al huis toe. Wat ’n verligting, nou kan sy huis toe gaan. Dit was ’n lang dag. Sy wil vinnig by die huis kom …

… sodat sy kan gereedmaak vir haar eerste afspraak vanaand saam met Alex.
Sy neem haar leerhandsak, skakel die skakelbord op stempos vir die nag en stap by ontvangs se deur uit. Dit is nou al tien oor vyf; sy draai te lank. Sy stap vinnig tot by die bekende bushalte met sy lendelam bankie. Lyndi se motor staan by die woonstel met ’n pap battery.

Sy sug. Eintlik is sy al so moeg vir hierdie werk. Soms dink sy daaraan om terug te gaan na haar ouerhuis toe, maar daar gaan minder as niks aan nie. Sy is ’n plaasmeisie, maar geniet die stadslewe. Hier kan sy in die winkels rondloop en ure lank saam met haar nuwe vriendinne in haar woonstel kuier en klets.

Die bus is laat. Sy loer om die bushalte se afdakkie. Dit is vreemd dat daar nie vanmiddag nog ander moeë siele is wat saam met haar wag nie. Sy kyk weer op haar horlosie – amper halfses. Nou raak sy bekommerd; iets is beslis verkeerd. Dit is al pikdonker en koud.

Nie ver van die bushalte af nie is die treinstasie en sy oorweeg dit om daarheen te stap, maar sy is effens bangerig. Om woonstel toe te stap is ook te ver en sy sal eers laataand daar aankom, haar voete vol blase van haar mooi, nuwe sandale.

Sy sien dieselfde minibus wat weer, net soos ’n paar minute tevore, by haar verbyry. Elke keer loer die bestuurder na haar kant toe. Die volgende oomblik stop hy en beweeg agteruit. Die deure skuif oop en ’n handjievol mense klim geselsend uit. Hulle sien haar nie eens raak nie. Sy kyk anderpad, maak of sy vir iemand wag, maar eintlik is sy vreesbevange. Toe al die passasiers ’n ent weg is, roep die bestuurder na Lyndi. Sy kyk verbaas op.

“Mevrou, kan ek jou help? Die busse, hulle kom nie vanaand nie, hulle sê die highway is toe!”

Lyndi byt op haar onderlip.

“Mevrou,” roep hy weer.

“Ek sal vir jou help, jy kan nie alleen hier staan nie, dis baie gevaarlik hier saans!”

“Ek bly ver. Ek weet nie of jy so ver sal ry nie.” Lyndi se stem is bewerig.

“Waar bly Mevrou?”

Lyndi weet dat sy nie met vreemdelinge moet praat nie, maar kry tog die gevoel dat hierdie man eerlik is en haar wil help. Die kans dat iemand anders haar sal help, is onwaarskynlik.

“Mevrou, my bus is leeg, ek sal jou help. Ek wil nie môre hier kom dan het iemand mevrou seergemaak nie,” sê die man.

Wat gaan sy doen? Soveel verhale gaan deur haar kop van mense wat opgelaai word en nooit weer by hulle huise uitkom nie.

Die man klim uit die minibus, stap na haar toe. Hy steek sy hand uit.

“My naam is Tjoek-Tjoek, aangenaam.”

“Lyndi,” sê sy vinnig. Nou bewe sy behoorlik.

“Mevrou, ek kan jou help, trust my. Mevrou kan hier agter by die deur sit en as jy voel jy wil spring, dan spring jy net. Die deur bly oop, hoe klink dit?” Hy kan sien hoe bang Lyndi is.

Sy hempspeld vang haar oog: Christ is my saviour. ’n effense verligting spoel oor haar.

“Nou goed, ek sal so bly wees as jy my kan help. My woonstel is in Langstraat 21,” sê Lyndi vinnig.

Die man glimlag en stap saam met haar na sy minibus. Lyndi merk dat ’n groot kruis agter op die bus geplak is, sommer so half oor die agtervenster. Op die kruis staan Tjoek-Tjoek. Sy stap om en klim in. By sommige van die stokou sitplekke loer die spons al uit, soos ’n ou man se baard. Ineens kry sy die vreemde man baie jammer.

Die minibus ry stadig van die bushalte weg. Lyndi bid saggies om net vanaand veilig by haar woonstel te kom. Die minibus se deur is nog steeds oop soos die man belowe het. En so ry hulle aan met die grootpad.

Lyndi staar by die oop deur uit. Sy knyp haar handsak stywer vas.

Toe gebeur wat Lyndi nie wou hê nie.’n Passasier wil opklim. Tjoek-Tjoek stop en neem die man se geld. Hy neem skuins agter haar plaas. Lyndi is nie gemaklik by vreemde mense nie en beur al hoe meer vorentoe. Sy is heeltemal uit haar gemaksone.

Twee haltes verder klim nog ’n passasier in, ’n jong seun. Hy neem langs haar plaas. Hy glimlag breed vir haar. Sy verkyk haar aan sy mooi wit tande. Hy staar op sy beurt nuuskierig na Lyndi, eet dan verder aan sy appel.

“Mevrou, Tjoek-Tjoek is ’n baie goeie mens,” sê die seun en glimlag dat sy wit tande wys. Hy neem weer ’n hap uit sy mooi, blink appel.

“Hoekom vertel jy my dit?” vra Lyndi belangstellend.

“Hy is ’n man van God en hy help mense na donker; hy sal jou enige tyd huis toe neem. Hy gee om vir mense,” sê hy met ’n nog groter wittand-glimlag. Lyndi glimlag, nou meer gerus.

Na ꞌn rukkie is Lyndi weer alleen agter in die bus.

“Mevrou, wil jy nie liewer die deur toemaak en hier by my kom sit nie? Niemand sal vanaand meer opklim nie en dit raak koud en gevaarlik met die oop deur.”

Lyndi skuif na die voorste sitplek toe, want dit is inderdaad ’n koue met ꞌn byt wat by die oop deur inkom.

Tjoek-Tjoek kyk na haar en sê: “Mevrou, ek is regtig jammer vir jou. Maar ons paaie loop elke dag anders.”

“Dis niks, ek is net baie dankbaar dat jy my help,” sê Lyndi. Sy is moeg van al die spanning.

Sy vee met haar hand oor haar voorkop en dink aan Alex en die afspraak wat nie gaan gebeur nie. Sy sal moet verduidelik hoekom hy voor dooiemansdeur opgedaag het.

Tjoek-Tjoek sien sy is moeg en beduie dat haar straat nou naby is. Hy haal ’n besigheidskaartjie te voorskyn en gee dit vir haar.

“Bel my as jy hulp nodig het. Geen vrou kan na donker so langs die pad staan en wag nie.”

“Baie dankie, hoe kan ek jou bedank?” vra Lyndi en haal haar beursie uit.

“Nee, nee Mevrou, vanaand is verniet,” sê Tjoek-Tjoek vinnig.

Lyndi, bedank hom en bêre haar beursie in haar handsak.

“Tjoek-Tjoek, waar het jy jou naam gekry?” vra Lyndi fronsend.

“Mevrou, ek is die enigste minibusbestuurder by die stasie wat na donker mense oplaai. Net soos die trein wat elke tien minute verbykom, ry ek elke tien minute dié pad. Die trein maak tjoek-tjoek, ek is die enigste tjoek-tjoek minibusbestuurder, daarop noem hulle my Tjoek-Tjoek.

Lyndi kyk Tjoek-Tjoek met dankbaarheid aan. Hy is waarlik ’n man met ’n goeie hart.

Toe stop hulle voor haar woonstel.

“Mevrou, baie sterkte vir jou en onthou, God gee ons hoop en Hy gee ons ’n veilige plek as die donker nag kom.” Tjoek-Tjoek glimlag. “Luister na Sy woorde en laat hulle lewe!

Lyndi knik haar kop en klim uit. Hulle groet en Lyndi staar Tjoek-Tjoek agterna toe hy wegtrek. Sy lees die kontaknommer op die kaartjie wat hy gegee het. Agterop die kaartjie staan die woorde Werk want die nag kom nader. Dis wonderlike woorde van ’n goeie engel met die naam Tjoek-Tjoek.

Sy maak haar oë toe. Vinnig en saggies dank sy God dat sy veilig by die huis gekom het. Sy druk die kaartjie in haar handsak. Sy gaan geld spaar en so vinnig as moontlik daardie battery in haar motor vervang. Vanaand het sy ’n les geleer.

Dankie, Tjoek-Tjoek!

lees meer

WANDELPAD – Ria Fourie

Rentia Loock kyk vir oulaas in die truspieëltjie na die huis wat vir vyftien jaar hare was. Sy het gedink dit sal moeilik wees om weg te ry, maar dit voel …

… eerder asof daar ’n ton klippe van haar skouers afrol.
Sy het nooit gedink daar sal ’n dag kom dat sy vry sal wees nie.
Tussen daardie mure lê emmers vol trane, sakke vol selfverwyt. Waens vol woede. Maar hoe verder sy wegry, hoe minder dink sy daaraan. Die verkeer op die snelweg is ook so besig dat sy noodgedwonge haar aandag by die pad bepaal.
Sy ry deur die Grassmere tolhek en die velde lê oop rondom haar. Die liedjie uit die FAK-bundel kom onwillekeurig by haar op. Liewe hemel, wanneer laas het sy dit gesing? Sy begin die wysie neurie, want sy kan wraggies nie die woorde mooi onthou nie.

As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad, la lala la…

Die hemel weet, sy wou al jare gelede die wandelpad gevat het. Die lewe in die voorstad van Pretoria het haar by tye so geknel dat sy siek geword het.

Sy was ’n plaasnooi wat ’n tweede kans op geluk gewaag en met ’n stedeling getrou het. Die mooi woorde en baie beloftes was toe net ’n leë geraas. Sy moes van beter geweet het, maar op daardie stadium het sy nog aan liefde geglo.

As sy nou eerlik wil wees, moet sy erken dat die hele vyftien jaar nie alles noodwendig sleg was nie. Dit was eerder ’n geval van twee skepe wat deurentyd bymekaar verby vaar sonder dat die een van die ander een weet. Die laaste twee jaar was moeilik, want al was daar nie vuurwerke tussen hulle nie, het sy hom nie die kanker wat sy lyf opgevreet het, toegewens nie. Drie maande gelede is hy oorlede en sy het dadelik die bal aan die rol gesit om die stad te verlaat. Sy wil nooit weer in ’n besige stad bly nie.

Die bande se geruis op die teer verskaf die agtergrondmusiek en kort voor lank sing sy die ou liedjie uit volle bors. In verskeie genres, totdat sy later vir haarself lag dat die trane rol.

Walter Malan stap in die grondpad af. Hy is ’n man met ’n missie. Na Leonie se verraad het hy vir nog ’n paar jaar probeer om die lewe in die stad te hanteer. Maar nou is dit verby. Hy het ’n pelgrimstog onderneem. Hy gaan Kaap toe stap, al neem dit die hele jaar. Hy loop van dorp tot dorp op die agterpaaie van die land. Rus waar hy kan, stap solank as wat hy krag het. Sy voeteval is die enigste geluid, behalwe vir die gekrys van voëls. Iewers in sy gedagtes lui daar ’n klokkie van ’n baie ou liedjie uit sy kinderdae. Hy begin neurie, dan onthou hy die woorde:

En ek luister na my eie voeteval, op pad oor berg en dal. Dan’s ek weer die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar, ’n swerwer lewenslank, ’n swerwer lewenslank!

Ek sal nou nie ’n swerwer wees nie, maar hierdie paadjie gaan ek klaar stap, dink hy terwyl hy sag lag. Die wysie steek nou in sy kop vas en hy sing die liedjie kliphard terwyl sy sole op die grond knars. Langs ‘n trop beeste wat naby die plaasheining wei, gaan hy staan. Hy sing die strofe met ’n operastem. Hy is wel ‘n bietjie vals, maar wie gaan dit nou hoor? Dit is so verspot lekker dat hy met toe oë aanhou sing.

Rentia het van Bloemfontein af weggedraai van die N1-hoofpad af. Sy ry met die agterpaadjies verder. Haar Ford Ecosport hanteer die klipperige paadjies goed. Sy ry stadiger as wat sy moet, want sy drink die skoonheid van die platteland in. Die lug is blouer as ooit. Die lusern staan groen in die lande. Haar venster is afgedraai en sy ry stadig sodat die stof van die grondpad nie te erg opdwarrel nie.

Haar gees voel lig terwyl sy steeds die liedjie neurie.

Langs die pad staan ’n man met sy een hand op sy bors en die ander arm in die lug. Hy sing uit volle bors. Sy hou impulsief stil. Sy oë moet toe wees, want hy sien haar nie. Hy buig voor die beeste wat hom met gevoelvolle oë aanstaar. Dan kyk hy op en hulle oë ontmoet.

Sy klim uit.

“Haai, ekskuus, ek wil nou nie jou konsert onderbreek nie, maar jou gehoor lyk erg verveeld.” Walter kyk na die vrou wat voor hom staan. Nogal aantreklik. Nie die dadelik-aandagtrek aantreklik nie, maar eerder die kyk-vir-meer aantreklikheid. Hy steek sy hand uit.

“Walter Malan, aangename kennis.”

“Rentia Loock, bly te kenne. Wat het jy vir jou gehoor opgedis? Hulle is nie baie beïndruk nie!”

Walter begin lag. “Dis ’n stokou liedjie. Nogal uit die FAK-bundel.”

“Ek het ook vanoggend daar in die argiewe gaan grawe. Ek kan net nie al die woorde onthou nie. En ek het nie ’n gehoor gehad nie.”

“Wat het jy gesing?” wil hy nou nuuskierig weet.

Die volgende oomblik trek Rentia weg en sing uit volle bors.

Walter se oë rek verbaas. Dan bars hy uit van die lag.

“Dis presies wat ek gesing het! Ek het net die tweede vers gesing – dié van die eensame wandelaar.”

Dis al sterk skemer as die motorligte die donker in twee kloof. Die bestuurder verminder spoed. As hy reg kan onthou, moet dit nou hier iewers wees. Ja! Daar is die groot boom met die takke wat so windskeef in die lug staan.

“Ons is hier.” Hy skakel die motor af en hulle klim uit. Die stilte van die veld oorrompel hulle. Walter loop nader aan die draad, Rentia agterna. Hy hou sy hand uit na haar.

“Dis net hier. Hier het ek al vir jou lief geword. Ek het dit net nie besef nie. Maar noudat ek hier staan, besef ek dit is die waarheid.” Hy praat sag. Wil nie die aandstilte versteur nie. Rentia staan styf teen hom. Sy begin sing:

En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek …

Walter val saam met haar in.

… en die sterreheer sal kom en gaan

oor die maanverligte hemelbaan

en vriend’lik wink van ver, en vriend’lik wink van ver.

Dan is albei stil. Skuins bo hulle, in die helder lig van die melkweg, skiet ’n ster uit sy baan en ontplof voor hulle oë. Dan sak dit stadig af aarde toe.

Die sterreheer het gekom en hulle geseën.

lees meer

BY MOOIRIVIER SE BRUG – Nico Schamrel

Vanaf die bopunt van die berg lyk dit na ’n grondpad wat deur die kloof slinger. Met die koms van die groot reën, ’n weerbarstige storm, word Moeder Aarde gevoed.


Versadigde ondergrondse waterare druk deur rotse en krake. ’n Vol rivier kom af – ’n dreuning deur bome, slote, oor rotse en teen walle.
Die bruin grondslang vervel; sy lyf is vet en blink, skitterwit skubbe waarin sonlig weerkaats, sy lyf is blou soos ’n eindelose somersdag. Seil glibberig deur die landskap tot hy oor kranse na benede stort, ’n watergat waar sy asem mistig opstyg en in kronkels tussen palmiete en wilgerbome verdwyn.
By die brug van klipsteen en mos, waar bloekombome wagstaan, kruis rivier en pad – kartel die stroom onder deur die brug met ’n fluisterstem oor rivierklippe en platgevalle bome. Hier rinkink tinktinkies en swaai geel vinke aan nuutgeboude nessies. In poele swem paddavissies, kruip krappe onder klippe en blare weg. Die kleiwal is diep uitgegrawe; skape, beeste, soldate, ’n strooidakhuisie van klei.
Kaalvoetspore lê diep getrap in modder en sand.
Die brug. ’n Middelpunt van ontmoeting, die verbintenis tussen twee. Mooirivier, die naelstring wat die mooiste vriendskap voed.
“Ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug,” sê Boitjie en lag.
“Dan wag ek vir jou op ’n perd met ’n af stert,” lag Basie terug en druk sy albasters in sy broeksak.
“Tot môre dan,” groet hulle vir oulaas en loop weg van die middel van die brug.
Boitjie na hul grasdakhuisie. Basie na hul opstal.
Kyk terug soos oudergewoonte en waai.
Tot môre. Weer in die middel van die brug.

Reeds met sonop en skaars lig, staan Basie en wag in die middel van die brug. Vandag gaan hulle kettieskiet, maar nie vinkies nie. Om dood te maak, is sonde. Hy het klaar ’n paar groot kluite op die stomp van die omgevalle bloekomboom gepak. Op die bruggie se muur lê sy ammunisie – ’n ry rivierklippe, koeëlrond.
Dan hoor hy van ver die uiltjie wat roep: hoe-hoe, hoe-hoe.
Vingers voor sy mond, blaas. Die tortelduif antwoord met ’n koer-koer.

“My pa sê daar kom gróót reën,” groet Boitjie en vee teen ’n graspol die modder van sy voet af.
“Soos Noag se reën?” vra Basie met groot oë.
“Ek het nie gevra nie, maar my pa sê hy dink daar kom baie water wat al die damme sal volmaak en daar sal genoeg water in die rivier wees vir ’n lang tyd, én in die swemkuil vir baie jare wat nog kom – tot … tot ons grootmense is.” Boitjie kyk oor die brug na die rivier wat onderdeur vloei.
“Wat dink jy?” vra Basie.
“Wat gaan ons maak as die brug wegspoel, hu?” Boitjie lyk bekommerd.
“Hu is husse met langore,” sê Basie. Hy weet nie wat hulle dán gaan maak nie.
Kettieskiet. Toe wen Boitjie, want Basie dink aan die brug en Noag se groot reën.
“Ek bring môre ’n fles saam. Dan vang ons paddavissies en hou hulle veilig in die fles.” Basie druk sy kettie in sy broeksak.
“Hoekom?”
“Vir wanneer Noag se groot reën kom en alles wegspoel. Dan red ons die paddavissies. Onthou wat ek jou vertel het van die dinosourusse?” Daar is niks van hulle oor nie, dink Basie. Paddavissies kan gered word.
“En wat van die vinke?” vra Boitjie. Wat gaan van hulle word? Hulle kan die eiertjies neem en die hoenders kan hulle uitbroei. En as daar nie hoenders is nie? Hulle kan die nessies vat en dit warm hou. Wat gaan hulle eet? Die vrae raak te veel binne sy kop.
“Ek is bang,” sê Boitjie skielik. Daar is skrikkerigheid in sy bruin oë.
“Ek ook.” Toe hardloop Basie weg van die bang af na die onderpunt van die rivier.
“Kom Boitjie, kom ons maak kleiosse!” skree hy opgewonde.
“Ja, dan trek ons weg en bou ’n huisie op die punt van Boberg.” Hy kyk op na die plato van die groot ou berg, doer ver. Waar is die wolke?
Kleiosse; twintig in totaal, mooi groot horings, tien is vet gevreet. Basie se tien lyk meer soos die maer jare, dink Boitjie. Basie se osse trek voor, deur die graspolle, oor klippe tot bo-op ’n miershoop – Boberg.
Huis van klei; buffelsgras vir ’n dak, boombas vir ’n deur. ’n Kraal wat vierkantig duskant staan; ’n heining van takkies en boombas. Die kleiosse is veilig.
Wat bou jy?” vra Boitjie.
“Mý huis,” sê Basie. Mure van boombas, vasgemessel met klei, heldergroen blare vir ’n dak, die voordeur langwerpig gesny uit ’n vetplantblaar.
“Hoekom?” Boitjie vee die klei van sy hande aan ’n bossie af.
“Want ek moet ’n huis hê.”
“Ek het mos ’n huis gebou.”
Stilte.
“Maar ek moet my eie huis hê.” Basie gaan sit op sy hurke met sy vuil hande onder sy ken soos een wat dink.
“Hoekom?” vra Boitjie.
Stilte. Basie vroetel aan sy huis se dak.
“Ek weet nie,” sê hy. Hoekom is die speletjie nie meer lekker nie?
“Dan moet jy vir jou ’n kraal ook bou en jou osse daarin sit,” sê Boitjie en tel die tien maer jare uit die kraal en sit hulle versigtig langs Basie se huis.
Stilte.
“Ek sê jou wat,” Basie gryp sy rugsak, “kom ons gaan eet ons brood by die swemgat. Ek is lus vir swem. Die een wat laaste is, is ’n ouman met ’n gelapte broek!” skree Basie en spring eerste weg.
Boitjie gee nie om as sy broek gelap is nie.
Resies oor die brug – weg van die opstal, nader aan die grasdakhuisie.

“Waar draai Boitjie vandag? A nee …” vra ma-Mottie kwaai en kyk deur die venster van die grasdakhuisie, “dit raak laat. Koort, loop roep jouse pa. Hy moet vir Boitjie gaan soek. Kyk hoe pak die wolke daar anderkant saam. As daai wolke hom se water vandag gooi, is daar pêre. Loop seg vir jouse pa hy moet loop kyk by die watergat. Toe, maak gou!”
Swart word die wolke; ’n donkergrys karos wat oor Boberg hang.
By die wit opstal roep ’n ma na haar seun; al om die huis, verby die wilgers, roep-roep. Waar speel die kind?

“Boitjie, ek moet by die huis kom. Kyk, daar kom jou pa se reën.”
Basie kyk bang na Noag se wolke. Wat van die paddavissies?
Groot druppels plons neer.
“Kom saam na my huis toe!” skree Boitjie en begin hardloop.
“Nee, ek mag nie, ek moet …” hy aarsel, “ek moet by my eie huis kom voor die brug wegspoel!” skree hy terug.
Die reën stort neer. Hy móét aan die anderkant van die brug kom. Hardloop, vinnig, vinniger, gly, val, staan op, hardloop.
Hy wil huil. Waar is hy? Daar is waterstrome, kleiner riviertjies, poele, gladde klippe. ’n Stem wat roep – pa met sy voertuig, druk die toeter. Vinniger.
Wat gaan ons maak as die brug wegspoel, hu?
Hu is husse met langore.
Die huisie van klei staan nog. Die boombas huis is weggespoel. Tien kleiosse is veilig in hul kraal. Die maer jare lê platgetrap.
’n Slag; klippe wat bars, ’n wal water wat alles oorstroom. Die brug stort ineen. ’n Kloof vol water tussen die opstal en die grasdakhuisie. Basie klou aan sy pa vas. Veilig.

Na die groot reën sak die water stadig. Dit is ’n lang wag. Na weke, toe dit veilig is, gaan wag die tortelduif aan die punt van die brug – koer-koer, met ’n olyftakkie tussen sy vingers.
Die uiltjie bly weg.
“Pa, is ma-Mottie-hulle veilig? Is Boitjie en Koort en almal veilig?” Die grasdakhuisie en die kleiosse op die miershoop, dink hy.
“Ons weet nog nie,” sê Pa met kommer, “ons moet wag voor ons oor die rivier kan gaan.”

Wag. Hoe alleen voel alles. Die nessies is weg. Die brug is ’n hoop klippe onder massas water. Iewers heen spoel die water; na die swemgat en oor die waterval. Kyk hoe swart is die water dáár en hoe blou is die water hier. Onder die wilgers is die water ’n grasgroen spieël.
Die tortelduif koer-koer. Waar is die uiltjie?
Slop-slop; rimpels op die water, takke wat liggies kraak en knak. Wie kom deur die water?
Koer-koer.
Hoe-hoe, hoe-hoe.
Hy kan sy oë nie glo nie. Kan dit wees?
“Ek het jou mos gesê ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug!” skree Boitjie tussen die bome deur. Daar, aan die oorkant van die brug tussen die bloekombome, kom Boitjie knielend op ’n os se rug. ’n Raps met ’n plat hand op die os se boud.
“Waar’s jou perd met die stompstert?” vra Boitjie en lag.
Basie voel verleë.
“Kom, klim op. Ons gaan vetkoek eet by my huis en dan gaan ons swemgat toe.”
Basie klim op die os.
“Jy móét die waterval sien. Sjoe, dis mooi. Ek het ’n paar paddavissies gekry net anderkant die swemgat. Amper vergeet ek, daar’s vinkneste by die bopunt van die waterval en …” Boitjie praat aanmekaar.

Wat gaan ons maak as die brug wegspoel?
Ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug.

lees meer

WEERWRAAK – Bets Koen

“Hoekom het ek tog met jou getrou? Ek moes na my ma geluister het!”
Sy weet die skop gaan kom. Sy trek haar lyf in ‘n krul, maar sy skoen vang haar nogtans op haar niere. Magriet byt op haar tande. Sy sal nie vir hom wys hoe seer dit is nie, maar die trane in haar oë kan sy nie keer nie.

Sy knip die nattigheid weg. Selfs daardie genoegdoening sal sy hom nie gee nie. Eendag is eendag …
“Hoekom het ek tog met jou getrou? Ek moes na my ma geluister het!”
Sy weet die skop gaan kom. Sy trek haar lyf in ‘n krul, maar sy skoen vang haar nogtans op haar niere. Magriet byt op haar tande. Sy sal nie vir hom wys hoe seer dit is nie, maar die trane in haar oë kan sy nie keer nie. Sy knip die nattigheid weg. Selfs daardie genoegdoening sal sy hom nie gee nie. Eendag is eendag …
Magriet trek haar lyf oor die mat tot in die badkamer. Sy vorder tot by die toilet waar sy van haar ontbyt ontslae raak. Sy hang vuisvoos oor die rand van die bak, moedeloos met haar lewe wat nie meer aan haar behoort nie. Petrus het oorgeneem. Wat hy sê, is wet. Wat hy doen, is reg. Sy het haar stem in hierdie huwelik verloor, lankal. Sy is net. Liefde is lankal nie meer deel van haar gevoelens vir hom nie. Inteendeel, die woede en die haat wel van voor af in haar gemoed op.

Petrus stap die blommewinkel selfvoldaan uit. Die ruiker bloedrooi angeliere is netjies toegedraai. ‘n Versoeningsoffer aan Magriet. Hy weet sy kan blomme nie weerstaan nie. Vandat hulle begin uitgaan het, het hy vir haar angeliere aangedra. Vandag is nie anders nie. Sy sal hom vergewe. As sy maar net weer kan wees soos sy jare gelede was toe hulle getroud is. Jonk, sag, vol lewe en lag. Maar deesdae is sy ‘n ou knorpot en tart sy hom om elke hoek en draai. G’n wonder dat hy so dikwels sy humeur verloor nie! Maar toemaar, die angeliere sal alles regmaak, daarvan is hy seker. Sy sal weer lag soos ‘n jongmeisie, giggel soos toe hulle jonkgetroud was. Ontvanklik vir sy lyf wees, soos jong verliefdes.
Magriet hoor die voordeur oopgaan. Haar lyf ruk styf. Wat maak hy hier? Hoekom is hy nie by die werk nie?
“Het jy teruggekom om seker te maak ek pyn?” Sy kyk nie om nie.
“Ek is jammer, my lief, ek het my humeur verloor. Hier is vir jou ietsie.” Geen sweem van apologie in sy stem nie.
Sy loer oor haar skouer. Die bos rooi angeliere word na haar toe uitgehou. Sy draai stil om, vat die blomme en sit dit op die toonbank neer. Draai weg. Haar lyf wag, maar die nuwe pyn kom nie.
“Ek gaan nou maar eers. Maak nou vir ons lekker kos vir vanaand en sit ‘n bottel wyn in die yskas. Dan kuier ons rustig saam. Lief jou.” Hy gee haar ‘n piksoen op die wang.
Laatmiddag staan Magriet pynlik voor die wasbak in die kombuis. Die skottelgoed van gisteraand het hard geword. Vanoggend s’n is net nog ‘n bewys dat geweld haar lewe vul. Die glasstukke skuif sy met haar voet eenkant toe, lyf te seer om te buk en op te tel. Laat dit maar lê vir later.
Rustig saam kuier, verbeel jou! Ba! En die man praat van liefde! Magriet was die skottelgoed met soveel aggressie dat die water op die vloer beland. Sy is nie eers daarvan bewus nie. Verwoed skuif sy later die blomme na die tafeltjie in die ingangsportaal. Sy het die blomkoppe afgesny, slegs die stingels staan bleekgroen in die glasvaas. Sy haat angeliere.
Petrus kom vrolik van die garage af gestap. Agter daardie voordeur wag Magriet vir hom. Hy is seker daar is ‘n heerlike gekookte ete en wyn wagtend op ‘n keurig gedekte tafel.
Hy stoot vol verwagting die voordeur oop.
“Hallo, Magriet, ek is tuis!” Sy oog val op die blomstingels sonder blomme. ‘n Intense woede neem van hom besit.
“Waarom het jy …” Die skoot is oorverdowend, maar dodelik.
Magriet grynslag. Nou net van die lyk ontslae raak. So lank moes sy haar eie bloed afvee. Sal dit nie opwindend wees om sy bloed van die vloer af op te vee nie?

Magriet leef haar lewe in vrede. Haar lyf bly heel, pynloos. Vandag geniet sy die laat winterson in die voorkamer.
Ineens gaan die voordeur oop. Sy kyk verward op. Daar is niemand nie. Die voordeur knip weer saggies toe. Magriet is yskoud, ten spyte van die wintersonnetjie wat oor haar lyf val. Sy ril, trek haar trui stywer teen haar lyf vas. Dan val ‘n veerligte aanraking op haar skouers. Die aanraking word fermer. Sy probeer haar lyf draai om van die vreemde gevoel weg te kom,maar die drukking word intens.
Magriet probeer benoud uit haar stoel opstaan om van die drukking weg te kom, maar dis asof onsigbare hande haar in haar stoel vasdruk. Vrees verlam haar verder.
“Wat gaan aan?” roep sy in die stil sitkamer. Sy kyk verward-bang rond. Daar is niks nie, net die ligte wind wat by die halfoop venster inglip en die gordyne liggies warrel. En die drukking op haar skouers. ‘n Lamheid het in haar bene vasgeskop.
Dan, eensklaps, is die drukking weg. Die warm gloed van die laaste sonstrale is terug. Magriet se vrees bly in haar hart vasskop. Petrus? Is dit jy? Waarom rus jy nie, vir wat sukkel jy steeds met my? Magriet verbeel haar sy hoor ‘n sagte laggie. Petrus se laggie, vol lekkerkry. Sy ril weer, skud dan haar kop in ontkenning. Petrus is mos dood, dan nie?
Vir dae is die huis rustig. Geen vreemde gevoelens of bewegings nie. Net Magriet wat haar eensame lewe voortleef.

‘n Nuwe lentedag breek aan. Magriet se tuin is ‘n lushof. Haar rose, haar geliefkoosde blomme, staan reeds in volle blom. Die mooistes pronk in haar ingangsportaal. Magriet staan voor die sitkamervenster die lushof buite en aanskou. ‘n Tevrede trots kom lê oor haar bors. Sy haal diep en tevrede asem.
In die tuin het ‘n ligte windjie opgekom. Magriet staan en kyk hoe dit haar rose liggies roer, dan sterker heen en weer waai. Die pragtige, volkleur roosknoppe begin een na die ander buig, breek. Morsaf. Magriet se oë rek. Hoe is dit moontlik? Op geen ander plek in die tuin waai die wind nie!
Dan, ineens, voel sy weer die drukking op haar skouers. Die atmosfeer om haar verkil. Magriet ril, roer haar skouers om van die vreemde drukking ontslae te raak. Tevergeefs. Die drukking skuif op, nader na haar nek toe. ‘n Koudheid knel nou om haar keel. Magriet sukkel om asem te kry, die knelling word feller, feller, die suurstof minder. Magriet word koud, duiselig, donker. Haar lyf verslap.
En langs haar, in die nog yskoue sitkamer, staan ‘n vae figuur, roerloos. Dan verskyn ‘n triomferende glimlaggie om die vaagbelynde mond, voordat die figuur in die niet verdwyn.

lees meer

DIE PERFEKTE MOORD? – Amelia Myburg

Mirre kyk die ‘instruksies’ weereens deur. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om ‘n ysmes te maak? Sy het alles sommer maklik in die hande gekry, tot die houer waarin sy die ysmesse gaan stoor, sodat dit nie kan smelt nie.

Sy het nou genoeg gehad van haar man, en sy oë wat so dwaal, én sy hande wat hy nooit kan tuishou nie.
Eers was daar haar vriendin, toe haar suster en nou is dit ‘n kollega by sy werk. Die derde keer was nou die laaste keer. Hy weet nie sy weet van die kollega nie. Sy het toevallig uitgevind toe hy wéér laat moes werk, en sy hulle albei se motors in die parkeerarea gesien het. Hulle was vervreem van mekaar, maar hy het gesweer daar is niemand nie. Sy het suutjies by die trappe op gegaan, en nie met die hysbak nie. Hulle sou dit hoor. Sy het hulle gevang, op die bank, in sy kantoor. Die sessie was stomend. Susette is haar naam. Sy het stadig omgedraai, en geluidloos weggeloop. Op daardie presiese oomblik het sy besluit; hy sal dit nóóit weer aan haar doen nie. Genoeg is genoeg!!!

Sy werk al weke aan haar plan. Eers het sy haar bedenkinge gehad. Hulle was tog immers vervreemd van mekaar, en sy sou hom met liefde en vreugde sy vryheid het. Hy sou selfs haar seën kry, maar die aand toe sy hulle gesien het, was ook die aand wat hy by die huis gekom, en gevra het dat hulle asseblief aan hulle huwelik moet werk, dat sy rondloop én sy rondkykdae verby is. Hulle het twee jong kindertjies, en hy wil die beste hê vir hulle.

Sy maak die kassie met die ysmesse toe, en gaan bêre dit in die motorhuis se vrieskas. Dis hoogsomer, en sy wil die messe perfek gevries hou. Sy wéét sy moet nou net vir die regte tyd wag.

Twee dae later, terwyl sy besig is met aandete, lui die foon. Dis Arno. Hy is jammer, hy werk laat, sy moet asseblief sy kos in die warmlaai bêre. Hy weet nie hoe laat hy by die huis gaan wees nie. Dalk slaap hy sommer by die kantoor oor. Sy moenie vir hom wakker bly nie. Hy het mos sy eie sleutel.
Sy grinnik.
“Mirre?” hoor sy hom aan die ander kant.
“Dis reg my lief,” sê sy stroperig. “Ek gaan dan maar solank lê. Die kinders slaap mos vanaand by my ouers, want dis vakansie…”
“Sien jou later, mooiste,” sê hy weer, en lui dan af.
“Wie is jou mooiste?” Sy gooi haar selfoon op die kombuiskas neer, en sit die stoof af. Dis nóú of nóóit. Sy dae is getel. Én daai flerrie s’n ook!

Die stad is groot, maar as sy wag tot sy kantore sluit, en die verkeer minder is, sal sy binne ‘n uur terug by die huis wees, en niemand sal iets vermoed nie. Daar sal nie eens ‘n moordwapen wees nie. Dit gaan die polisie lekker laat kopkrap. Dan is sy vir altyd verlos van hom.
Sy trek aan. Alles in swart. Sy wil so onopsigtelik as moontlik wees. Sy trek handskoene ook aan. Sy gaan geen kanse vat nie.
Sy sit in haar motor, en kyk na die kantore. Dan skakel sy haar motor aan, en parkeer dit twee blokke verder. Haar motor mag nie hier opgemerk word nie. Sy wil geen kanse vat nie. Sy kry warm, en al die lugversorging in haar motor yskoud gestel, loop die sweet in straaltjies haar af. Sy wil dit nie doen nie, maar sy móét!

Sy bereik haar man se kantoordeur, en luister na wat hulle gesels. Sy kollega dring aan daarop dat hy so gou moontlik van haar skei, maar hy is eintlik maar werkersklas, en sê dat hy dit nie sal kan bekostig nie, maar Susette wil nie langer wag nie. Hulle stry vir ‘n rukkie, maar dan soek sy witvoetjie, en begin om hom sag te soen. Dit raak al vuriger. Só erg, dat sy haarself in die kantoor langsaan gaan toesluit.
“Die flippen feeks!” sis sy.
Dan hoor sy haar toe sy verby die kantoor loop, en by die badkamer ingaan. Sy maak die tassie oop, en haal die ysmes uit. Sy klou styf aan die handvatsel, en loop na die badkamer. Sy stoot die deur oop, en maak eers doodseker dat daar niemand anders in die badkamer is nie.
Sy staan buite die deur en wag. Sy hoop net nie die ysmes smelt nie.
Susette het dit nie sien kom nie. Mirre het mooi gemik, en dis regdeur haar hart. Sy maak nog ‘n paar roggelgeluide, en toe is dit verby.
Sy sluip na die kantoor, en kry die ander mes. Sy haal diep asem, en vee die sweet van haar gesig af.
Sy loop na haar man se kamer. Hy lê op die een bank. Sy oë toe. Sy sluip geluidloos nader, en lig die mes omhoog…

‘n Half-uur later is sy terug by die huis. Daar is nie ‘n druppel bloed op haar óf op haar klere nie. Sy het die tas met die oorblywende ysmesse in die dam gaan gooi.
Sy trek die klere uit, en gaan bêre dit op die gewone plek. Dan gaan sy kombuis toe, en gaan aan met die kos, soos normaalweg. Sy bêre Arno se kos in die warmlaai, en gaan dan bed toe. Sy raak amper dadelik aan die slaap.

Die volgende oggend word sy eers wakker toe iemand die deurklokkie aanhoudend lui. Sy kyk na die wekker, en sien dat dit al ná agt is. Sy loop na die voordeur, en sien dat van haar man se kollegas by die hek is. Hulle bring vir haar die slegte nuus, en haar toneelspel is ongelooflik goed. Sy is geskok, maar oordryf glad nie. Sy hoor die hoof verdagte is die kollega se man. Hy was gisteraand in die omtrek gesien. Die moordwapen word nog vermis, maar die polisie het hulle vermoedens.
Toe almal weg is, sak sy op die bank neer. Het sy so pas die perfekte moord gepleeg? Net tyd sal leer, maar tot dan was sy by die huis, besig om kos te maak, én sy is vroeg bed toe. Die selfoonrekords sal dit kan bevestig. Sy het ook haar selfoon tuis gelos toe sy gery het, én hy het immers gesê sy moenie vir hom opwag nie. Haar alibi is eintlik waterdig.

lees meer

‘N TWEEDE KANS – Riaan Palmer

Ek het haar doodgemaak. Jy hoef nie te wonder nie. Daar is geen raaisel, misterie of onoplosbare komplot nie. Ek het die pistool teen haar kop gedruk en die sneller getrek. Natuurlik nie sonder die nodige drama, trane en pleite nie. Daar was bloed orals. Soos ‘n rooi storm na ‘n droë winter.

Dit het natuurlik begin by my eie dood. Ek het apaties in ‘n plas van my eie bloed gesit en wag. My wange was nat van die trane, maar ek het nie meer gehuil nie. Ek het genoeg gehuil voor dit, maar die trane was uiteindelik vir altyd klaar. Ek het ook nie lank gewag nie. Hy’t stadig, statig die vertrek ingestap, presies soos ek hom in my geestesoog gesien het. ‘n Entiteit in swart geklee met die mantel oor sy kop sodat jy nie sy gesig kan sien nie. Net ‘n oneindige swart. Die Dood. Dalk lyk hy soos wat jy verwag hy moet lyk? Hy lyk dalk anders vir elkeen?
Hy’t langs my kom sit, sommer so plat op die grond.
“Hoekom?” Sy stem ingetoë, tog met soveel gesag dat die berge vir seker vir hom sal luister as hy praat.
Hoekom nie? Ek was half ongeduldig, half beskuldigend. Ek het niemand ‘n verduideliking geskuld nie.
Hierdie oomblik was die somtotaal van jare se foute, swakheid en moedswilligheid.

Ek was ‘n alkoholis. As ek nou terugkyk kan ek haar nie blameer dat sy gevra het vir ‘n egskeiding nie. Sy was die liefde van my lewe. En ek was haar ewige liefde. “Ewig”. Elke glas whiskey het haar liefde vir my bietjie-bietjie weggespoel. Na genoeg soebat, smeek, dreig en bottels whiskey word “ewig” ook maar net so lank as wat een vrou nie meer kan nie.
Sarah.
Na die egskeiding het ek nie ophou drink nie. Ses maande terug het Stuart, wat die wêreld se geduld gehad het, ook genoeg gehad en my in die pad gesteek. Ek het mure om my gebou en met woede en verwyte my laaste vriende en selfs familie vervreem. Laas maand het die bank ook genoeg gehad. ‘n Whiskey-asem betaal nie die huispaaiement nie. Hulle het laat weet dat hulle die huis gaan terugvat.
My lewe was in puin en al wie die skuld kon dra was ek. Hierdie was die bodem van ‘n put waaruit niemand ooit sal kan klim nie. Die einde.
Dit is natuurlik net reg dat die whiskey wat my tot by hierdie punt gebring het, my ook die nodige moed gegee het om die pistool teen my kop te sit en die sneller te trek. Natuurlik eers een laaste oproep na haar toe, om jammer te sê vir alles. Sy’t soos soveel keer tevore gesê ek’s dronk, ek moet ophou om haar te bel en die foon doodgedruk. Dit het die finale besluit seker makliker gemaak.
En hier het ek gesit, hopeloos en alleen. Maar ek was nie alleen nie. Nadat ek die sneller getrek het was dit dalk ‘n ewigheid, dalk ‘n breukdeel van ‘n millisekonde. Toe ek opkyk, was hy daar.
‘n Normale mens sou histeries of bang gewees het, maar ek was nie meer normaal nie. Ek was nie verbaas dat hy daar was nie. Nee, ek het hom verwag. Verwelkom.
“Hoekom?”
‘Hoekom nie’ is wat ek wou antwoord. Maar dit was ‘n verligting om hoekoms uiteindelik hardop te sê. “Jy weet sekerlik al die redes. Drank. My swakheid. My foute. Die seer. Ek kan nie meer daarmee saamleef nie. Ek kan nie sonder háár leef nie!”
“Ai, Michael…” Die manier waarop hy dit gesê het, het my weer soos ‘n kind laat voel, asof ek iets gedoen het en daaroor gelieg het. Maar ek het nie nou gelieg nie. Die bewys was in die gemors wat ek op daardie oomblik was.

“Ek is jammer,” het ek gesê. Om watter rede ook al, het ek gevoel dat ek verskoning moet vra.
“Jy’t ‘n leeftyd spandeer om jammer te wees.” Het hy geantwoord. “Jammer vir jouself. Maar jammer beteken niks tensy jy nie jouself vergewe nie.”

Die woorde het in my ore weerklink. Ek het geweet wat hy bedoel het. Hy wou hê dat ek moes sien dat my enigste vyand ekself was.
Jammer.
Jammer dat Joshua verdrink het. Jammer dat Joshua verdrink het toe ek hom moes oppas.
Ek was veertien. Hy was ses.
Ek probeer nou al 25 jaar myself verdrink.

“Gee jy al die siele wat jy kom haal sielkundige raad?” Ek het probeer om hom in die oë te kyk, maar daar was net die eindelose swart waar sy gesig moes wees.

Die Dood het ‘n verleë, kort laggie gegee, “Nee. Dit is meestal net vir diegene soos jý wat dit in eie hande neem om die lot te bepaal. Dit hang egter nie van jou af nie.”
“So, jy gee raad aan selfmoord slagoffers. Dis nou bietjie laat, dink jy nie so nie?”
Hy’t diep gesug, asof hy dit al duisende kere vantevore verduidelik het. Hy het sekerlik. “Daar moet ‘n balans wees in die heelal. Goed en sleg. Die lewe. Die dood. Redes. ‘n Ewewig. Ek wil net vir jou ‘n ander perspektief gee.”

“Watter perspektief sou dit wees? Die enigste werklikheid wat ek sien, is dat ek ‘n aaklige verskoning van ‘n mens is. Hoekom moet ek bang wees vir die dood? Dit kan nie moeiliker wees as die lewe nie. Dit is al wat daar vir my oor is.”
“Ek wys jou net hoe die lewe kán wees.”
“Gmf. Waarvoor moet ek lewe?” My stem was hard, kwaad, maar dit het geen effek op die donker figuur voor my gehad nie.
Hy’t met verrassende geduld bly praat. “Wat as ek jou vertel dat jy dit deur hierdie depressie sou maak? Dat jy uiteindelik deur hulp en terapie jouself kon vergewe vir jou broer se dood. Wat as ek jou vertel dat omdat jy hierdie depressie sal oorkom, jy weer ‘n werk sal kry, en dat jy baie suksesvol sou wees in die pos? Uiteindelik, sou jou vriende, familie en ook jou eks gesien het dat jy nugter is en jou lewe omgekeer het. Hulle sou trots wees op jou. Jy sal nie na ‘n bottel whiskey kyk sonder om siek te wees nie. Sarah sal weer met jou begin praat en julle liefde sal weer vlam vat. Uiteindelik sal julle weer trou en twee pragtige kinders die wêreld inbring. Wat as ek jou sou vertel dat jy die beste deel van jou lewe sou misloop deur te kies om op te gee?”
Die trane was weer terug. Trane van blydskap. Hoop. Sarah. Kinders. “Regtig? Sou ek regtig weer geluk geken het? Hoekom vertel jy my dit alles?”
“Wil jy daai lewe ken?” Die Dood se stem was vol belofte van hoop.
“Ek wil lewe.”

Toe ek wakker word was haar gesig die eerste ding wat ek sien. Sarah. Sy het verduidelik dat die koeël wonderbaarlik geen permanente skade aan my brein verrig het nie. Ek gaan leef.
Ek het geleef.
Ek het na terapie en behandeling weer die wêreld aangedurf. Ek het my broer se dood verwerk en myself vergewe.
Sarah het my toegelaat om in haar spaarkamer te bly totdat ek weer op my voete was. Ek het die lewe aangedurf met ongekende energie en ‘n wil om te lewe. Ek het uiteindelik werk gekry en ‘n totale sukses daarvan gemaak. Na 2 jaar sonder ‘n druppel drank oor my lippe het Sarah ingestem om weer met my te trou. Binne ‘n jaar was sy verwagtend en ‘n tweeling het my oneindige vreugde gebring. Die lewe was ‘n lied.
Vir ‘n oomblik.

Sarah was na die tweeling se geboorte…anders. Ek het dadelik die simptome herken. Die onttrekking. Die konstante hartseer. Verlies aan eetlus en belangstelling. Sy het die tweeling soveel vermy as wat sy kon.
Depressie.
Ek het Sarah gedwing om my sielkundige te gaan sien en die dokter het bevestig wat ek vermoed het. Postnatale depressie. Sy het vir Sarah medikasie voorgeskryf en afsprake twee keer ‘n week gereël.

Maar dit was te laat.
Dit was net na twee die oggend en die tweeling was aan die huil. Sarah het opgestaan om hulle melk te gee. Ek het vinnig weer aan die slaap geraak toe die tweeling stil word. Sowat ‘n uur later het ek weer wakker geskrik van…ek weet nie. Maar iets was fout. Sarah was nog nie terug in die bed nie. Ek het haastig opgestaan en na die donker babakamer gestrompel. Sarah het emosieloos in ‘n bondeltjie voor die kot gesit met haar knieë opgetrek tot onder haar ken. ‘n Kussing in haar hande vasgeklem.
“Sarah?” ‘n Koue angs het my omsingel, deurdring en in my beendere gekruip. Ek het die lig aangesit en met ‘n doodsvrees tot by die kot geloop. Die tweeling het doodstil gelê.
Dood. Stil.
Die trane het vrylik oor my wange geloop terwyl ek my hand uitgesteek het en oor die yskoue liggaampies gevryf het.
“Nee…Sarah…NEE!” My bene het onder my ingegee en ek het inmekaargesak. Totaal lam van die skok.
“Hulle wou nie ophou huil nie.” Het Sarah in ‘n saaklike stem gesê en die kussing – die moordwapen – teen haar vasgedruk.

My hele lyf het geruk van die snikke en ek het besete roepe van pyn geskreeu – soos die van ‘n dier. Ek het ‘n hand op my skouer gevoel en ontsteld my lyf weggeruk. Toe ek opkyk, kyk ek in die diep swart niks waar Die Dood se gesig moes wees.
Ek was terug in die vertrek waar ek myself geskiet het, 3 jaar gelede. Asof daar nie ‘n sekonde verloop het nie. Ek het steeds in die plas bloed gesit wat net groter geword het. Was dit alles ‘n droom? Is dit alles ‘n hallusinasie as gevolg van breinskade van die skoot deur die kop?
“Nee.” Het die Dood gesê asof hy my gedagtes gelees het. “Dit is jou lewe as jy besluit om te leef.”
Ek het manies gelag.
“Watse soort besluit is dit?! Ek kan mos onmoontlik nie dáái besluit maak nie! Drie jaar van herstel en geluk en vrede vir my siel, en dan…” Ek kon die tweeling so duidelik soos daglig in my gedagtes sien. Voel. Ruik. Asof ek sekondes gelede nog aan hulle gevat het. Nou koud. Leweloos. “Jy’t dan die gesprek begin deur te sê ‘dit hang nie van my af nie’… En nou verwag jy ek moet ‘n keuse maak?”
“Ja en nee. As ek sê dit hang nie van jou af nie, bedoel ek die balans hang nie van jou af nie. Die universele balans. Elke aksie het ‘n reaksie. Begin. Einde. Goed. Sleg. Lewe. Dood. Balans. Jy’t keuses, maar die balans sal áltyd daar wees.”

Mens sou dink dit is ‘n maklike keuse om te maak. Dat ek eerder sou kies om dood te wees as wat ek my kinders se lyke kry… My kinders, wat deur die liefde van my lewe vermoor was. Dis mos maklik. Kies die dood voor ek weer dit moes beleef.
Maar ek het nie die dood gekies nie.
Alles het gebeur soos die vorige keer. Ek het oorleef. Uit die put geklim en my lewe weer opgebou van die grond af op. Soos die vorige keer was Sarah daar vir my. Soos die vorige keer het ek haar uiteindelik gevra om weer te trou. Soos die vorige keer was sy verwagtend. Met ‘n tweeling.
Ek weet nie of sy dit kon aanvoel nie. Ek het my bes gedoen om die part te speel van die verlore, gebroke, verliefde man. Maar diep binne my was ‘n oneindige woede. ‘n Haat. Ek kon nie die toneel uit my gedagtes kry van Sarah wat in die donker voor die kot sit nie. My liewe, onskuldige kinders in die kot. Leweloos. Sarah wat hulle vermoor het. Dit het in my bly draai en kolk; soos ‘n kanker gegroei en gesweer. Ek kon haar nie vergewe nie.
Maar ek kon dit keer.

‘n Week na die geboorte van die tweeling het ek ons slaapkamer ingestap met die pistool. Ek het die koue staal teen ‘n verskrikte Sarah se kop gedruk.
“Jy is ‘n moordenaar. ‘n Monster.”, het ek koud gesê en die sneller getrek. 3 jaar se woede, haat, afsku wat gelei het tot daardie oomblik.
Toe ek omdraai staan Die Dood daar. Alhoewel ek nie sy gesig kon sien nie, kon ek die hartseer en teleurstelling voel.
“Sien. Ek kan kies.” Ek het vir hom gegrynslag. Ek was ver verby waansinnig. Verby terugkeer. “Jy soek ‘n dood vir ‘n lewe. Dáár. Redes? Dáár is jou redes. Balans? Dáár is jou balans.”
‘n Put sonder ‘n begin of ‘n einde.
Sonder om vir ‘n antwoord te wag het ek na die babakamer begin stap om die tweeling te gaan troos.
Ek het uiteindelik verstaan. Dit was nie ‘n droom nie. Dit was nie ‘n hallusinasie of breinskade nie. Daar was net een moontlike antwoord. Die hel.

lees meer