AARD-S.O.S KOMPETISIE deur Amateur Skrywers Bond.

INLIGTING:


Wat is plagiaat?

Plagiaat is ‘letterdiefstal’ (Lat.: plagiarus: letterdief, verleier, ontvoerder). Dit behels die onerkende oorname of toeëiening weergawe van anderman se geestes- of intellektuele besit (wat oorspronklike idees, styl en vormgewing insluit) met die opset om ander oor die oorspronklike outeurskap daarvan te mislei of in die duister te laat. 

Die strafbare aspek van plagiaat word onder die Wet op Outeursregte hanteer. In Suid-Afrika is die oorspronklike wet in 1916 aanvaar en daarna verskeie kere aangepas en uitgebrei om die geestesbesit van die skeppende individu in ‘n groter mate te beskerm. Die konsep van geestes- en intellektuele eiendom en die gevolglike beskerming van outeursreg is betreklik jonk: dit het eers in die 19de, maar veral in die 20ste eeu op die voorgrond getree. Outeursregte hang baie nou saam met die ontwikkeling van ‘n wye verskeidenheid meganiese en elektroniese reproduksietegnieke vanaf die vroeë vorme van die boekdrukkuns tot litografie, fotokopiëring en klank- en video-opnames. Die wetlike beskerming van outeursregte is dus nie alleen gerig op die beskerming van die oorspronklikheid en individualiteit van die outeur nie, maar ook (en veral) op sy reg op ‘n verdienste uit sy skepping. Kopiëring kan ‘n oortreding van die Wet op Outeursreg (Wet 98 van 1978) wees sonder dat dit plagiaat, ‘n verswyging van bron of outeur, is. Plagiaat is derhalwe óf onselfstandige werk uit ‘n onvermoë om ‘n sinvolle sintese te vind binne ‘n nuwe konteks (die ontlenings is dus onfunksioneel binne ‘n beoogde nuwe geheel), óf ‘n doelbewuste verswyging van die bron om te mislei. In dergelike gevalle moet die verswyging van die bron of model die skrywer as verswaring toegereken word. (Verwerk: Literêre Terme en Teorieë – Ronèl Johl)


Wat doen PENdit.za se twee proeflesers?

 Redigering begin by jou as skrywer, net na voltooiing van jou manuskrip. Skrywers dink dikwels ’n redigeerder kan die herskryf van ’n teks, sommer na die eerste deurskryf behartig. Dit is egter die skrywer se plig om die herskryf van die verhaal of dokument waar te neem.

 Eers daarna kom die redigeerder as objektiewe persoon om dit te fynkam deur te kyk na spelling, leestekens, taalkonstruksie, styl, konsekwentheid, vloeibaarheid, gladde opeenvolging van paragrawe en hoofstukke, verband en in akademiese of meer formele dokumente ook na inhoudsopgawe, bibliografie, struktuur, duidelikheid van feite, ensovoorts.

’n Bietjie raad met eie eerste redigering:

Kry eerstens bietjie afstand, slaap daaroor.

Om meer objektief daarna te probeer kyk (want jy is oorbekend met die verhaal), kan jy die lettertipe, grootte van lettertipe en spasiëring verander. Jy kan dit ook uitdruk, want jy sien dikwels foute beter raak op dié manier. Probeer jou werk deur die oë van jou leser lees.

Let veral op na herhaling, vloeibaarheid, spelling, leestekens en korrekte feite.

Doen net kort gedeeltes op ’n slag anders verloor jy konsentrasie.

Wanneer jy tevrede voel, stuur jy dit vir jou redigeerder

Redigering behels geweldig baie soos hierbo genoem. Daar word ook kommentaar gelewer om die skrywer te lei om sekere veranderinge aan te bring. Dit neem baie tyd op, veral omdat die redigeerder jou dokument ’n paar keer (drie tot vyf keer) deurgaan. Jy behoort dus te verstaan dat wanneer dit ‘n volledige boek is, dat ’n redigeerder omtrent drie maande nodig het om dit volledig te hanteer. So nie kan ons nie die hoë standaard handhaaf wat ons stel nie.

Proeflees beteken om die manuskrip in ’n finale vorm deur te gaan en alle spel-, leesteken- en taalfoute, bladuitleg en algehele voorkoms na te gaan en om dit persgereed te maak.

Ons by PENdit.za redigeer (“editing”) en proeflees, doen taalversorging en tegniese uiteensetting van skryfwerk, kreatiewe skryfwerk soos sketse, essays, prosa, artikels, kortverhale en romans.