Afrikaanse stories deur talentvolle skrywers 

Ons deel graag die volgende Afrikaanse stories, kortverhale en ander publikasies met jou. Hierdie werke is deur PENdit.za en ons proeflees-span goedgekeur en sal moontlik in ons eie toekomstige publikasies verskyn. Indien jy ‘n lid word van PENdit.za sal jou werk ook hier verskyn. Dit plaas ‘n kollig op jou as skrywer en sodoende word jy blootgestel aan groot uitgewers in die bedryf.

WITTER AS SNEEU – Nico Schamrel

Kinderkrans, elke Dinsdag, 15:00. Met ʼn vyf sent in jou sak vir kollekte, was die offerhande nie te skraps nie. ʼn Bruinbrood het twee en ʼn half sent gekos.

Vir heelwat jare was dit ’n entjie se stap van Caledonstraat 251, verby winkels en besighede tot by die kerk. Om drieuur het die sing van kinderstemme weergalm in die groot saal met sy hoë plafon en blink houtvloer, geëggo tussen ’n paar jakarandabome en tot by die pastorie van dominee Neethling.

Laat ons skyn vir Jesus …

Mevrou Botha was die hoofleier – ʼn skraal vrou, kort donker krulhare en ʼn skoenlapperraambril wat toe al uit die mode was. Mevrou Myburgh was korter en rond; ʼn blas vel, kort krulhare en het plat insteekskoene gedra.

Daar was dikwels onderlangs gegis oor haar donker vel en krulhare, maar dit was onder die tee-en-koek tannies, hulle wat opgetoë en getiteld met skewe lippe onderlangs vir mekaar fluister.

Ek het baie kere net gestaar na haar; groot donker oë wat na my terugkyk, probeer sien wat daar binne my eie oë verskuil was. In haar oë kon ek swaarkry sien, hoe eenvoudig haar lewe was, dat die lewenspad vir haar anders verloop het. Vir my was sy ʼn mooi tannie waar Jesus in ʼn hart woon wat witter as sneeu was.

Beide tannies het in die onderdorp gewoon. Hulle het ver gestap elke Dinsdag, om vir ons klomp kinders iets te kom leer wat die fondament was van ons opvoeding – geloof en Christenskap. Hulle het vir ons die ou-ou tyding gebring van Godsheil, eenvoudig, soos vir ʼn kindjie klein. Mededeelsaamheid, respek, sien die goed en nie die kwaad nie. Moenie oordeel nie, want daar is ʼn groter balk in jou eie oog.

Ons het sonder begeleiding gesing, uit volle bors soos vrolike vinkies en bokmakieries in die begin van lente – oor die sterre wat skitter, dat Jesus my roep vir ʼn sonstraal, oor wanneer Hy weer kom om my te kom haal. Dan sing ons oor Sy roepstem, saggies en teer – hoe Hy roep na my en na jou.

Ons bid saam.

Ons knyp ons oë styf toe, vou ons hande op ons skoot en ons luister na die stem wat met Jesus praat.

In my kop is die hemel, groot en wyd. Groen gras wat fluweelsag uitgestrek lê oor koppies en rante. Daar is nie ʼn klip of ʼn rots waarteen jy jou toon kan stamp nie. Daar is nie ʼn son wat jou kan steek nie, ʼn maan ook nie by nag nie.

ʼn Leeu en ʼn lam speel jagertjies, rol bollemakiesie teen ʼn heuwel af.

Op ʼn groot goue troon sit my Kinderbybel se Liewe Jesus; gekrulde hare, blou oë, ʼn kroon met robyne, diamante, pêrels en silwer. Hy dra ʼn spierwit kleed. Engelkindertjies sit by Sy voete. Laat die kindertjies na My toe kom.

In Sy helder Lig skitter ʼn stad met bloedrooi rose onder glasvloere. ʼn Nuwe Jerusalem met strate van goud; veilig, verlig met Sy helder glans en gevul met liefde wat uitstraal in die stemme en kore wat lofsange sing. In gange en sale is engele wat rein en ongeskonde liefde met mekaar deel – ʼn aanraking, ʼn oog se blik, ʼn hand wat seën soos God. Engele wat vlekkeloos en onbesmet, heilig en godvresend, met eerbied en lief hê Hom verheerlik.

Iewers het Hy vir my ʼn plek voorberei. ʼn Huisie sonder vensters en deure, sonder diefwering en mure – net ʼn huisie met ʼn wit wolk waarop ek kan slaap. Slaap mens in die hemel?

Daar is my ouma en oupa, my ooms en my tannies … daar is my pa. Hy lyk so goed, gesond. Ek kan hom net onthou soos toe hy siek was. Daar is ʼn andersheid aan hom. Hy glimlag en strek sy arms na my uit; daar is goue strale in sy hande, ʼn skynsel van sonneblink en skitterster in sy oë. Hy is so godgegewe volmaak geskep, so sondeloos en godsalig.

Amen. Ek maak my oë oop.

Wat ʼn Vriend het ons in Jesus.

Op pad huis toe, lyk die wêreld so anders. Die sypaadjie is grys en ongelyk. Die gras is grof en plek-plek ʼn geel kol. Daar is goud, silwer, pêrels, robyne en diamante in die juwelier se vertoonvenster. Dit is die enigste plek. Mense stap verby, kyk anderpad, groet skaars, nie eers ʼn wuif met ʼn hand nie. ʼn Radiostasie speel ʼn eentonige deuntjie.

Toe kom daar ʼn stoet verby. Ek gaan staan eerbiedig aan die kant van die straat, my kop gebuig en wag tot die stoet verby is.

Ek sien ʼn nuwe Hemel kom.

Ek het nie daardie dag my bydrae in die bordjie gegooi nie. Ek weet nie hoekom nie. Ek dink al die kinders het na die bordjie gestap en hulle kollekte ingegooi, maar ek het tussen hulle en alles verlore geraak. My vyfsentstuk het in my sak agtergebly.
Voor ek verder kon stap, het ʼn man by my kom staan. Hy was oud, arm en verwaarloos. ʼn Groot boks het oor sy krom skouer gehang.

“Het kleinbaas nie vir my ʼn stukkie ou brood nie?”

Ou brood. Gister sʼn, eergister sʼn. Net ʼn stukkie ou brood.

Ek het my hand in my sak gedruk en my twee bruin brode in sy bakhand gesit.

Ek het vir jou brood gevra, maar jy het My niks gegee nie.

Hy het dankie gesê en wou die witkind se kop streel, maar sy hande was vuil, gevlek en vervloek. Watter lied sing hy in sy hart, het ek wonder.

Witter as sneeu, ja, witter as sneeu – witter as sneeu wil ek wees.

lees meer

GETROU AAN MY – Madeleen Theron

Haar oë volg sy lang, lenige liggaam tot dit om die hoek verdwyn. Jy is verloof, herinner sy haarself, maar sy voel hoe haar liggaam haar verraai.

Sy sluit haar oë en blaas haar asem stadig uit.
“Mevrou.”
Sy maak asof sy nie hoor nie.
“Mevrou!”
Sy maak haar oë oop. Dis hy!
“Ek is mejuffrou.”
Sy blou oë speel met haar. Hy buk stadig oor haar sonstoel. Die spiere rippel op sy bors. Hy sit haar sonhoed op haar kop. Sy haal dieper asem. Hy gebruik Brut … sy hou daarvan.
“Die son is skerp vandag,” sê hy.
“Dankie.” Flouerig.
“Ek is Ben.”
“Ek is verloof.”
Hy lag en sy bloos.
“Ek bedoel…”
“Toemaar, jy hoef nie verskoning te maak nie.”
Sy oë terg weer. “Wil jy een of ander tyd gaan koffie drink?”
“Nee.”
“Nee, jy wil nie, of nee, jy kan nie?”
“Altwee.”
Hy staan op. “Dan het ek my seker verbeel, ek is jammer.”
“Wag!” keer sy. “Hoekom koffie, dis so outyds.”
Hy kry nie kans om te antwoord nie. Sonja se verloofde kom aangestap met twee kersiepienk mengeldrankies.
“Hallo, liefie!” roep sy vrolik, “ontmoet Ben. Ben, dit is Pieter, my verloofde.”
Ben hou sy regterhand uit, maar Pieter se hande is vol.
“Aangenaam,” mompel Pieter sonder om op te kyk.
“Dan loop ek maar,” sê Ben effens verleë. “Ek wou net seker maak jy … e … doen nie sonbrand op nie. Jou vel is baie lig.”
Haar oë kyk die keer anderpad wanneer hy op sy gemak wegdrentel.
“Wat is die kêrel se probleem, Sonja. Het hy jou gepla?”
“Nee … hy het my hoed aangegee. Die son is skerp.”
“Kom ons gaan dans vanaand. Net ek en jy,” sê Pieter. “Ons los die oumense vir ‘n slag by die woonstel.”
Pieter grinnik soos ’n skoolseun wat op die punt is om iets stouts aan te vang.
***
Sonja se oë dwaal oor die skare dansers. Sy is verlig dat dit vir ’n verandering net sy en Pieter is. Dis nie maklik om saam met sy ouers met vakansie te wees nie.
“Hallo, pragtige mejúffrou.”
Sonja se bloed suis in haar ore. “Ben! Wat maak jy hier?”
“Ek kan dieselfde vra.”
“Ek’s hier saam met Pieter.”
“Ek sien, ja!”
Pieter is besig om deur die skare te beur met vier drankies in sy hande. Bloues die keer. Sonja wonder oor haar verloofde se skielike voorliefde vir gekleurde mengeldrankies.
“Vier drankies, Pieter? Ons moet stadig, die aand is nog lank.”
Pieter knik sy kop in Ben se rigting.
“Hallo.” Ben lig sy hand in ’n groet.
“Sonja, my ouers het gebel. Hulle het besluit om ook te kom dans … is reeds op pad. Ek het solank vir hulle ook iets gekry om te drink.”
“Pieter! Jy het gesê dis net ek en jy vanaand!”
Voor sy haar teleurstelling voor Pieter se voete kan neergooi, gryp Ben haar hand vas.
“Dans met my, skone dame.”
Ben hou haar te styf vas, maar sy gee nie om nie. Haar gedagtes sukkel om los te kom van Pieter … hy tree die afgelope tyd snaaks op.
Ben is ’n uitstekende danser. Sy regterhand streel vir ‘n oomblik oor haar rug en sy beweeg instinktief weg van hom af.
“Moenie, Ben.” Hy maak iets in haar wakker wat sy nie wil erken nie.
“Jammer.” Hy hou haar ligter vas.
Sonja se oë is op die dansvloer. Pieter en sy ma het nog altyd goed oor die weg gekom. Kyk net hoe dans hulle, mens sou sweer die twee is verloof!
“Waar’s die ou toppie?”
“Moenie so van Pieter se pa praat nie. Hy is by die kroeg.”
“Kom saam met my,” fluister Ben in haar nek.
Sonja voel hoe haar temperatuur met tien grade styg. Sy kyk weer na waar Pieter en sy ma intussen die middelpunt van belangstelling op die dansvloer geword het. Sy knik.
“Let’s go.”
Sonja protesteer nie toe Ben haar op die strand in sy arms neem en haar soen nie. Sy ontspan teen hom aan en kreun saggies, Pieter en sy ouers vergete. Ben hou haar vir ‘n oomblik op armlengte.
“Ons kan ophou.”
“Nee,” sê sy en trek hom nader. “Soen my.”
***
“Sonja, ek het jou órals gesoek, waar was jy?”
“Pieter! E … slaap jou ouers al? Ek het bietjie op die strand gaan stap. Jammer ek’s so laat.” Sy maak die strandhuis se deur saggies agter haar toe.
“Kom sit by my. Ek wil net gou die nuus kyk, dan kan ons gesels.”
“Ek’s moeg. Kan ons môre-oggend praat?”
Met Pieter se ouers saam op vakansie kry hulle min tyd vir mekaar, maar sy sien nie nou kans om hom in die oë te kyk nie … sy het tyd nodig om te dink.
Die volgende oggend is Sonja vroeg langs die swembad. Haar oë soekend na Ben se lang, lenige lyf.
“Môre, liefie. Kan ek by jou sit?” Pieter se ma is uitgevat in ’n kersierooi sonrok en ’n reusewit sonhoed en sonbril. Die tannie lyk goed vir haar ouderdom.
Nee, nie nou nie!
“Sit maar, tannie Petra. Slaap die oom nog?”
“Nee. Hy en Pieter is vroeg vanoggend dorp toe.”
“O.”
“Pieter sê vir my julle het nog nie op ‘n troudatum besluit nie.”
“Nee, nog nie, Tannie. Daar is baie tyd.”
“Jy weet, toe ek en die oom jonk was …”
Sonja spring op.
“Verskoon my, tannie Petra. Ek het iets by die woonstel vergeet.” Sy sien nie nou kans vir ’n lesing nie en Ben kan enige tyd sy opwagting maak.
“Hokaai!”
Sonja steier agteruit. Ben gryp haar vas voordat sy haar balans verloor.
“Sonja! Wat is fout?”
“Ek … e … waar was jy?”
“In die dorp.”
“O, Pieter en sy pa ook.”
“Ek het hulle daar raakgeloop. Ek het iets om jou te vertel.”
“Nou?”
“Ja. Dit kan nie wag nie.”
“Sonja!” Dit is Pieter se stem.
“Ontmoet my later op die strand, twee-uur, by dieselfde plek waar ons gisteraand was.” Daar is ’n dringendheid in Ben se stem. Sy knik instemmend.
Sonja hoor die res van die dag niks wat niemand sê nie. Sy kyk weer na haar horlosie.
“Ek gaan ‘n entjie stap,” kondig sy net voor twee aan.
“Wag, ek stap saam,” sê Pieter en spring op.
“Nee! Ek bedoel, ek wil graag alleen gaan stap.”
“Nonsens,” sê Pieter oorvriendelik. “Ek stap graag saam met my verloofde.”
Sonja hoop dat Ben hom sal skaars hou wanneer hy sien Pieter is by haar.
“Ben! Net die man wat ek soek. Wag vir ons!” sê Pieter en slaan oor in ‘n drafstap om Ben in te haal.
Sonja kners op haar tande.
“Sonja,” sê Pieter toe sy by hulle aansluit. “Laat ek jou voorstel. Ontmoet Gerhard, ‘n ou skoolvriend van my.”
“Ekskúús?” Sonja is skielik bewus van die koel briesie wat aan haar hare pluk … die branders wat hard teen die rotse slaan.
“Ek moes seker maak van jou getrouheid,” sê Pieter selfvoldaan. “Onder alle omstandighede.”
Sonja hoor nie wat hy verder sê nie. Sy weet al vir ‘n lang ruk dat sy nie meer met hom wil trou nie. Haar oë rus seer op die persoon wat ’n paar ure gelede haar hart in sy groot hande vasgehou het.
“Ben … uhm … Gerhard, is dit waar?”
“Ek’s jammer, Sonja.”
Sy draai haar rug op hom en stap weg.
“Sonja!”
Gerhard volg haar. “Sonja, wag,” roep hy.
Sy ignoreer hom.
“Asseblief! Ek is jammer. Ek het ja gesê omdat hy my vriend is, maar dit was voor ek die waarheid geweet het … en voor ek jou ontmoet het.”
Sonja draai om. “Níks gaan dinge nou meer kan regmaak nie. ‘n Leuen is ‘n leuen. Dis meer as ‘n leuen … dis verraad. Ons is altwee skuldig.”
“Laat my toe om te verduidelik. Dit is nie die hele storie nie.”
“Nee, Gerhard. Ons sal mekaar nóóit kan vertrou nie. Kan jy dit nie insien nie?’
“Ek was ‘n swaap, Sonja. Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek oor jou voel nie, maar daar is meer as net ek en jy. Ek moet jou vertel…”
“Nee! Ek wil niks verder hoor nie,” sê Sonja en stap weg.
***
“Moet ek volmaak, Madame?”
Sonja hoor nie dadelik nie. Haar blik rus verlangend op die Du Toitskloofberge. Hoe sal dit voel om tot op die hoogste piek te klim en af te kyk oor die Breederiviervallei?
“Madame?”
“Ja dankie, maar nie oorvol nie, Jonas. As die pomp stop, is die tenk vol. WAT DE HEL!”
“Skuus, Madame?”
“Nee, nie jy nie, Jonas.”
Sonja se oë volg die twee jongmense wat hand-aan-hand verby haar motor stap. Dis Pieter. Pieter en Nadine, haar beste vriendin!
Sy spring uit die motor.
“Hallo Pieter, Nadine.”
Pieter word merkbaar bleker. “Hallo Sonja, jy onthou vir…” probeer hy voorstel.
“Spaar jou asem, Pieter! Ons is nog nie eers ‘n maand uitmekaar nie! Dis duidelik dat jy … dat jy en Nadine … jy’s so vervelig en voorspelbaar!”
“Ek is jammer, Sonja.”
“Jammer! Jammer se voet! Jy het my laat glo dat ek die slegte een is! Jy het my lewe om elke hoek en draai versuur, jy het jou skoolvriend gehuur om my te verlei. En jy, Nadine, wat het jy vir jouself te sê?”
Sonja hou haar hand op toe Nadine wil antwoord. “TUT-TUT-TUT. Save it. Ek stel nie regtig belang nie. Ek hoop julle is baie gelukkig saam!”
Sonja betaal die nuuskierige petroljoggie en ry byna vir Pieter en Nadine raak waar hulle verslae na haar staan en kyk.
Sy skrik toe haar selfoon lui. Haar hande bewe toe sy antwoord.
“Sonja, hallo.”
“Sonja, dis Gerhard. Moet asseblief nie weer die foon neersit nie. Luister eers. Ek het jou lief … en ek mis jou … kan ons ontmoet?”
“Gerhard!” roep Sonja uit.
“Ek is so bly om jou stem te hoor. Voor jy verder praat, ‘n vraag; sal jy getrou wees aan my?”

lees meer

BY MOOIRIVIER SE BRUG – Nico Schamrel

Vanaf die bopunt van die berg lyk dit na ’n grondpad wat deur die kloof slinger. Met die koms van die groot reën, ’n weerbarstige storm, word Moeder Aarde gevoed.


Versadigde ondergrondse waterare druk deur rotse en krake. ’n Vol rivier kom af – ’n dreuning deur bome, slote, oor rotse en teen walle.
Die bruin grondslang vervel; sy lyf is vet en blink, skitterwit skubbe waarin sonlig weerkaats, sy lyf is blou soos ’n eindelose somersdag. Seil glibberig deur die landskap tot hy oor kranse na benede stort, ’n watergat waar sy asem mistig opstyg en in kronkels tussen palmiete en wilgerbome verdwyn.
By die brug van klipsteen en mos, waar bloekombome wagstaan, kruis rivier en pad – kartel die stroom onder deur die brug met ’n fluisterstem oor rivierklippe en platgevalle bome. Hier rinkink tinktinkies en swaai geel vinke aan nuutgeboude nessies. In poele swem paddavissies, kruip krappe onder klippe en blare weg. Die kleiwal is diep uitgegrawe; skape, beeste, soldate, ’n strooidakhuisie van klei.
Kaalvoetspore lê diep getrap in modder en sand.
Die brug. ’n Middelpunt van ontmoeting, die verbintenis tussen twee. Mooirivier, die naelstring wat die mooiste vriendskap voed.
“Ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug,” sê Boitjie en lag.
“Dan wag ek vir jou op ’n perd met ’n af stert,” lag Basie terug en druk sy albasters in sy broeksak.
“Tot môre dan,” groet hulle vir oulaas en loop weg van die middel van die brug.
Boitjie na hul grasdakhuisie. Basie na hul opstal.
Kyk terug soos oudergewoonte en waai.
Tot môre. Weer in die middel van die brug.

Reeds met sonop en skaars lig, staan Basie en wag in die middel van die brug. Vandag gaan hulle kettieskiet, maar nie vinkies nie. Om dood te maak, is sonde. Hy het klaar ’n paar groot kluite op die stomp van die omgevalle bloekomboom gepak. Op die bruggie se muur lê sy ammunisie – ’n ry rivierklippe, koeëlrond.
Dan hoor hy van ver die uiltjie wat roep: hoe-hoe, hoe-hoe.
Vingers voor sy mond, blaas. Die tortelduif antwoord met ’n koer-koer.

“My pa sê daar kom gróót reën,” groet Boitjie en vee teen ’n graspol die modder van sy voet af.
“Soos Noag se reën?” vra Basie met groot oë.
“Ek het nie gevra nie, maar my pa sê hy dink daar kom baie water wat al die damme sal volmaak en daar sal genoeg water in die rivier wees vir ’n lang tyd, én in die swemkuil vir baie jare wat nog kom – tot … tot ons grootmense is.” Boitjie kyk oor die brug na die rivier wat onderdeur vloei.
“Wat dink jy?” vra Basie.
“Wat gaan ons maak as die brug wegspoel, hu?” Boitjie lyk bekommerd.
“Hu is husse met langore,” sê Basie. Hy weet nie wat hulle dán gaan maak nie.
Kettieskiet. Toe wen Boitjie, want Basie dink aan die brug en Noag se groot reën.
“Ek bring môre ’n fles saam. Dan vang ons paddavissies en hou hulle veilig in die fles.” Basie druk sy kettie in sy broeksak.
“Hoekom?”
“Vir wanneer Noag se groot reën kom en alles wegspoel. Dan red ons die paddavissies. Onthou wat ek jou vertel het van die dinosourusse?” Daar is niks van hulle oor nie, dink Basie. Paddavissies kan gered word.
“En wat van die vinke?” vra Boitjie. Wat gaan van hulle word? Hulle kan die eiertjies neem en die hoenders kan hulle uitbroei. En as daar nie hoenders is nie? Hulle kan die nessies vat en dit warm hou. Wat gaan hulle eet? Die vrae raak te veel binne sy kop.
“Ek is bang,” sê Boitjie skielik. Daar is skrikkerigheid in sy bruin oë.
“Ek ook.” Toe hardloop Basie weg van die bang af na die onderpunt van die rivier.
“Kom Boitjie, kom ons maak kleiosse!” skree hy opgewonde.
“Ja, dan trek ons weg en bou ’n huisie op die punt van Boberg.” Hy kyk op na die plato van die groot ou berg, doer ver. Waar is die wolke?
Kleiosse; twintig in totaal, mooi groot horings, tien is vet gevreet. Basie se tien lyk meer soos die maer jare, dink Boitjie. Basie se osse trek voor, deur die graspolle, oor klippe tot bo-op ’n miershoop – Boberg.
Huis van klei; buffelsgras vir ’n dak, boombas vir ’n deur. ’n Kraal wat vierkantig duskant staan; ’n heining van takkies en boombas. Die kleiosse is veilig.
Wat bou jy?” vra Boitjie.
“Mý huis,” sê Basie. Mure van boombas, vasgemessel met klei, heldergroen blare vir ’n dak, die voordeur langwerpig gesny uit ’n vetplantblaar.
“Hoekom?” Boitjie vee die klei van sy hande aan ’n bossie af.
“Want ek moet ’n huis hê.”
“Ek het mos ’n huis gebou.”
Stilte.
“Maar ek moet my eie huis hê.” Basie gaan sit op sy hurke met sy vuil hande onder sy ken soos een wat dink.
“Hoekom?” vra Boitjie.
Stilte. Basie vroetel aan sy huis se dak.
“Ek weet nie,” sê hy. Hoekom is die speletjie nie meer lekker nie?
“Dan moet jy vir jou ’n kraal ook bou en jou osse daarin sit,” sê Boitjie en tel die tien maer jare uit die kraal en sit hulle versigtig langs Basie se huis.
Stilte.
“Ek sê jou wat,” Basie gryp sy rugsak, “kom ons gaan eet ons brood by die swemgat. Ek is lus vir swem. Die een wat laaste is, is ’n ouman met ’n gelapte broek!” skree Basie en spring eerste weg.
Boitjie gee nie om as sy broek gelap is nie.
Resies oor die brug – weg van die opstal, nader aan die grasdakhuisie.

“Waar draai Boitjie vandag? A nee …” vra ma-Mottie kwaai en kyk deur die venster van die grasdakhuisie, “dit raak laat. Koort, loop roep jouse pa. Hy moet vir Boitjie gaan soek. Kyk hoe pak die wolke daar anderkant saam. As daai wolke hom se water vandag gooi, is daar pêre. Loop seg vir jouse pa hy moet loop kyk by die watergat. Toe, maak gou!”
Swart word die wolke; ’n donkergrys karos wat oor Boberg hang.
By die wit opstal roep ’n ma na haar seun; al om die huis, verby die wilgers, roep-roep. Waar speel die kind?

“Boitjie, ek moet by die huis kom. Kyk, daar kom jou pa se reën.”
Basie kyk bang na Noag se wolke. Wat van die paddavissies?
Groot druppels plons neer.
“Kom saam na my huis toe!” skree Boitjie en begin hardloop.
“Nee, ek mag nie, ek moet …” hy aarsel, “ek moet by my eie huis kom voor die brug wegspoel!” skree hy terug.
Die reën stort neer. Hy móét aan die anderkant van die brug kom. Hardloop, vinnig, vinniger, gly, val, staan op, hardloop.
Hy wil huil. Waar is hy? Daar is waterstrome, kleiner riviertjies, poele, gladde klippe. ’n Stem wat roep – pa met sy voertuig, druk die toeter. Vinniger.
Wat gaan ons maak as die brug wegspoel, hu?
Hu is husse met langore.
Die huisie van klei staan nog. Die boombas huis is weggespoel. Tien kleiosse is veilig in hul kraal. Die maer jare lê platgetrap.
’n Slag; klippe wat bars, ’n wal water wat alles oorstroom. Die brug stort ineen. ’n Kloof vol water tussen die opstal en die grasdakhuisie. Basie klou aan sy pa vas. Veilig.

Na die groot reën sak die water stadig. Dit is ’n lang wag. Na weke, toe dit veilig is, gaan wag die tortelduif aan die punt van die brug – koer-koer, met ’n olyftakkie tussen sy vingers.
Die uiltjie bly weg.
“Pa, is ma-Mottie-hulle veilig? Is Boitjie en Koort en almal veilig?” Die grasdakhuisie en die kleiosse op die miershoop, dink hy.
“Ons weet nog nie,” sê Pa met kommer, “ons moet wag voor ons oor die rivier kan gaan.”

Wag. Hoe alleen voel alles. Die nessies is weg. Die brug is ’n hoop klippe onder massas water. Iewers heen spoel die water; na die swemgat en oor die waterval. Kyk hoe swart is die water dáár en hoe blou is die water hier. Onder die wilgers is die water ’n grasgroen spieël.
Die tortelduif koer-koer. Waar is die uiltjie?
Slop-slop; rimpels op die water, takke wat liggies kraak en knak. Wie kom deur die water?
Koer-koer.
Hoe-hoe, hoe-hoe.
Hy kan sy oë nie glo nie. Kan dit wees?
“Ek het jou mos gesê ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug!” skree Boitjie tussen die bome deur. Daar, aan die oorkant van die brug tussen die bloekombome, kom Boitjie knielend op ’n os se rug. ’n Raps met ’n plat hand op die os se boud.
“Waar’s jou perd met die stompstert?” vra Boitjie en lag.
Basie voel verleë.
“Kom, klim op. Ons gaan vetkoek eet by my huis en dan gaan ons swemgat toe.”
Basie klim op die os.
“Jy móét die waterval sien. Sjoe, dis mooi. Ek het ’n paar paddavissies gekry net anderkant die swemgat. Amper vergeet ek, daar’s vinkneste by die bopunt van die waterval en …” Boitjie praat aanmekaar.

Wat gaan ons maak as die brug wegspoel?
Ek ontmoet jou by die brug op ’n os se rug.

lees meer

KAROOVROU – Bets Koen

Vanuit die kombuisvenster staar sy uit oor die Karoo plaaswerf. Na niks. Nie implemente nie, nie wuiwende landerye nie. Daar waar lusern in die wind moes waai, ‘n groot vaalte.

Selfs die kraal is feitlik leeg. Slegs ’n paar geraamteskape staan of lê lusteloos rond.
Haar oë soek na ‘n groenigheidjie, al is dit net ‘n klein kolletjie. Selfs die tamaai ou bloekombome is dood. In die verte is die rivierloop sigbaar, reeds vir vyf jaar droog. Sy vee moeg oor haar nat wange; trane vir ‘n landskap waarvan die lewe uitgemergel is.

Sy draai weg van die venster af. Haar oog vang die ketel. Miskien sal ‘n koppie koffie help. Sy skakel die ketel aan, skakel dit net so vinnig weer af. Sy kan nie nou koffie drink nie. Die laaste bietjie Ricoffy in die blik is vir haar man as hy netnou moeg by die huis kom. ‘n Glas water moet maar haar dors les. Sy drink diep en gril. Die brak boorgatwater het nog nooit in haar smaak geval nie. Maar al grillende is sy dankbaar daar is darem nog water om te drink. Die tee is lankal op.

Die kinders is in Worcester op skool, 400 kilometer ver. Attie se tekkies is deurgespeel. Hy het dringend nuwes nodig, want die laaste tennistoernooie moet nog gespeel word. Lisa se matriekafskeid is om die draai. Gelukkig het hulle by ‘n vriendin ‘n rok geleen gekry. Sy het nie raad nie, vermy dit eerder om aan ’n oplossing te dink.

Sy hou die plaaspad dop. Haar man kom vandag huis toe nadat hy vir twee weke op ‘n plaas in die Boland gewerk het. Die paar sakkies voer wat hy met die vergoeding kan koop, maak die opoffering die moeite werd. Hy bly so hoopvol, sal selfs vandag by die koöperasie stop om te hoor of daar plan gemaak kan word. Die meeste skape is verkoop teen ‘n weggeeprys. Die wat nog oor is, kort voer.

Sy vryf oor haar rug, bekyk haar hande. Die twee weke wat verby is, was fisies en emosioneel uitmergelend. Sy moes self die maer skape voer gee en lyndrade stap. Die krippe is vol slyk. Haar hande jeuk om dit skoon te maak, maar sy kan nie so water mors nie. Die windpomp drup-drup. Die ooie stoot hulle lammers weg en intussen jubel die jakkalse onder die verwarde vee.

Haar tafel in die kombuis is mooi gedek. ’n Feesmaal wag vir Dries: eiers en brood. Die vertrek wat eers haar hartsplek was, waar sy na hartelus gekook het, staan nou stil. Haar koskaste kyk haar verwytend aan, leeg. Die gas vlek-vlek ’n laaste vlammetjie in ’n poging om die eiers gaar te kry; daar sal nie eers ‘n warm stort wees as haar man tuiskom nie.

Liewe Here, hoe gaan ek my man ondersteun as my hart reeds so swaar is? Sy knip haar oë, want haar trane dreig al weer.

In die verte, op die horison, verskyn ’n stofwolk. Sy berispe haarself: Kom, vrou, staan op, wees sterk! Maar haar bene is lam. Sy sak op haar knieë: “Here, gee asseblief krag, gee die regte bemoedigende woorde vir my man.”

Hy laai ‘n paar sakkies voer by die stoor af. Genoeg vir ‘n week. Sy lyftaal spreek van moegheid en verslaenheid. Die koöperasie was hom nie goedgesind nie. Met geboë skouers klim hy weer in, ry verder, opstal toe. Hy het oud geword.

Hy parkeer sommer voor die agterdeur, sit dan doodstil en staar oor die wolklose sonsondergang. Daar is, ten spyte van sy dowwe oë, ’n diepe hoop in sy hart dat reën môre sal kom. Hy klim uit met ’n skoenboksie in sy hand.

Sy groet hom, sien haar naam op die boksie. Wat kan dit wees, iets spesiaals vir haar? Woede: hoe kon hy geskenke koop terwyl hulle kos so nodig het? Tog is sy kinderlik-opgewonde as sy dit oopmaak. Twee sakkies cappuchino, haarsorgmiddels en lyfroom. Luukse artikels! ‘n Briefie daarby: “Liewe Karoovrou, ons dink aan jou.” Die mooiste rooi serp. Sy gooi die serp om haar nek, voel hoe sy blom.

Met ‘n skaam huppel in haar stap en ‘n hart vol dankbaarheid en hoop bak sy die eiers. Sy kan nie wag vir die cappuchino agterna nie, al sal hulle een sakkie deel en een bêre vir nog ’n dag.

Dankie Here, iemand gee om!

©Bets Koen 2019

lees meer

KUIER BY MY OUMA IN UNIONDALE – Lorraine Smit

Vakansies kuier ek by my ouma op Uniondale. Ek het ‘n oupa ook daar gehad. My oupa was ‘n waterwyser en ‘n boorman. Eendag boor hy toe ‘n plaasboer naby Robertson se dogter in die ander tyd in.

Toe die boer uitvind van die vleeslike boordery wat op sy werf met sy dogter gebeur, skiet hy my oupa net daar dood. Die skieter is toe tronk toe, die dogter maak haar boorkind alleen groot en my oupa lê ses voet onder die grond iewers in die dorpsbegraafplaas, want my ouma het gesê op Vreugdefontein in die familiebegraafplaas agter die wit ringmuur met die engel by die hek word sy oorskot nie ter aarde gelê nie.

My ouma stel toe vir haar ‘n plaasvoorman aan. Of liewer ‘n plaasvoorvrou – haar naam is Toanette. Toanette boer dat die biesies bewe, my ouma gee haar min of meer vrye teuels en die boerdery gaan vooruit. My ouma gee vir Toanette ‘n aandeel van die inkomste van die boerdery en ‘n stukkie grond waar sy ‘n huis van haar keuse kan bou. Toe boer Toanette met ‘n begeesterdheid wat jy nog in min boere op die lyf geloop het. So worrie my ouma nooit weer dat die plaas dalk sal agteruit gaan nie, sy het nooit ‘n probleem met geld nie en sy kan rustig in haar plaashuis met die groot rooi wraparound stoep bly. Rustig en onverstoord gaan my ouma aan asof daar nooit ‘n Oupa Uniondale was nie. Sy vertel nie en ons vra nie en so verdwyn Oupa Uniondale met die tyd asof selfs sy geboortesertifikaat by home affairs op sinistêre wyse uitgebrand het.

Kuiers by my ouma was vir my altyd hemel op aarde. Ek het die stoep gelove! Op die voorstoep was daar twee rocking chairs, ‘n riempiesbank en een van hierdie diep, ronde rottangstoele – spesiaal vir my (en die twee plaaskatte). Daar was ‘n groot witgeskropte tafel met swart-en-witgeverfde stoele vir wanneer mens op die stoep wou eet. Dan was daar nog steeds plek om ‘n tweedehandse meubelwinkel te begin, as jy wou.

Die stoepe rondom die huis en die agterstoep was so ‘n bietjie smaller, maar steeds groot genoeg dat al die kleinkinders (daar was een en twintig van ons – gebore van my ouma se vyf kinders) op matrasse daar kon slaap wanneer die hele familie by ouma was vir krismis.

Ek en Ouma het op die voorstoep gelewe! Maandae het Ouma nét op die stoep gesit vir tee tienuur en koffie vieruur, want dit was wasgoed- en huisskoonmaakdag. Dinsdag- en Donderdagoggende was Ouma baie besig, want sy het gebak vir tuisnywerhede in drie naburige dorpe. Smiddae het sy gaan aflewer. Ek het altyd saamgepiekel. Dan was daar Woensdae en Vrydae. Dan het Ouma op die stoep gesit en brei of hekel of blokraaisels invul. Ek het in die soetkyste op die solder gaan krap en met iets op die stoep kom sit en Ouma het die storie van die item vertel. Elke ding op die solder het ‘n storie gehad.

Soos die storie van die swart verestola. Ouma het my vertel dat sy die vere present gekry het by ‘n Engelsman wat sy verpleeg het net nadat sy stafverpleegster geword het. Die Engelsman se pa-‘le het ‘n plaas in Rhodesië gehad. Ek het gevra waar is Rhodesië en toe sê Ouma dis noord. Ek het eers later geleer dis die ou naam vir Zimbabwe. Anyway, toe ry die Engelsman eendag met sy fiets deur die veld en ‘n landmyn skiet sy een been mors-af. Hulle het hom na die hospitaal in die Kaap toe gestuur waar Ouma hom verpleeg het. Hulle het goeie vriende geword en toe die Engelsman die dag ontslaan word, gee hy vir haar die vere om dankie te sê. Ouma sê sy was so half verlieferig op die Engelsman, maar sy kon nie daai tyd goed Engels praat nie en hy is buitendien vort om op sy pa se grond te loop boer met een of ander soort Rhodesië-vleisbeesras.

Vertel van die groen aandrok, Ouma. Nee, sê Ouma, sy laaik nie meer om die storie van die rok te vertel nie. Ek vra hoekom nie en Ouma kry daai veraf seer in haar oë en sy sê sy het al vergeet van daai rok. Sy staan op en maak ‘n vuur. Ek word ge-order om die rok te loop haal terwyl sy vuur maak. Toe die vuur mooi brand, staan sy op en gooi die rok in die vuur. Sy sien die vraag in my oë en sê: “Dit was die boorman se favourite.” (My ouma het nooit meer van Oupa Uniondale gepraat nie – en die odd kere dat sy nie daar kom uitkom nie, was hy “die boorman”.)

Sy stuur my om iets anders te gaan soek waarvan ek die storie vertel wil hê. Ek grawe in die groot, groen koffer en haal ‘n swart kantrok uit wat ek nog nooit gesien het nie. Dit is vrekmooi! Ek gaan terug stoep toe en Ouma vertel van die swart kantrok.

“Donkiejare en vyf eeue terug was daar ‘n Jood met ‘n kontantwinkel op Humansdorp. Hy het enige ding van tange tot naalde en koffie en klere verkoop. As ‘n vrou ‘n spesiale rok vir ‘n okkasie wou hê, het die Jood se vrou dit gemaak. Sy was ‘n baie goeie seamstress. So bly daar toe op die dorp ‘n mooie meisie met die naam Emmerentia Scheepers. Emmerentia was verlief op ‘n seesoldaat wat sy op ‘n keer in Simonstad ontmoet het. Hulle het maar meesal met briewe gevry, want Simonstad is nou nie hier nie. Wanneer hy die slag of wat ‘n tydjie op land was, het hy by Emmerentia kom kuier. Dan bly hy in die losieshuis op die dorp en hulle twee loop hand-aan-hand die hele wêreld vol en soen dat die spoeg loop as hulle dink dat niemand hulle sien nie. Maar die langafstand-ding bly maar moeilik en die twee sien min van mekaar.
Op ‘n dag kom daar ‘n vreemde kar in die dorp in gery en stop voor die Scheeperse se deur. Die dorpmense het te vertelle gehad dat jy net een helske gil gehoor het, toe ‘n slag en toe kom die vreemde seesoldaat by die Scheeperse se huis uit en ry weg uit die dorp uit. Vir Emmerentia sien niemand weer in die dorp vir jare nie! Die mense vra vir haar huismense en vind so uit dat Emmerentia se seesoldaat tydens ‘n storm op see vergaan het. Sy kom Sondae saam met haar ma’le kerk toe, maar loop dadelik weer huis toe sonder om ‘n woord met enigiemand te praat. Dan sien niemand weer vir haar nie, tot volgende Sondag.

Op ‘n dag besluit Emmerentia se pa dit kan nie so aangaan nie, Emmerentia moet trou dat die familie darem kan voortleef. Emmerentia wil niks weet nie, maar sy het dit nie in haar om teen haar pa of die lewe of die gang daarvan te baklei nie. Haar pa kry vir haar ‘n verlangse neef wat op Jansenville bly wat ook nie tot trou kan kom nie vir ‘n bruidegom. Die man kom kuier so drie of vier keer by Emmerentia en al praat hulle min, praat hulle darem – oor die weer en hoenderboerdery en so. Toe begin die twee ouerpare reël aan ‘n bruilof van ongekende proporsies. Al wat familielid en verlangse familie van familie is, word genooi met algar se gades en kinders. Emmerentia gaan sien die Jood se vrou en bestel vir haar die allerfynste kant vir haar trourok. Sy bestel genoeg lap om sewe van diesefde rokke te maak. Die rokke kom tot op die voete en het geen sleep of veil nie. Sy dreig die Jood se vrou met die dood as sy enigiets vir enigiemand, haar ouers inkluis, van die rokke vertel. Dit kos ouderling Scheepers ‘n jong fortuin vir die ‘trourok’, maar hy betaal dit gewillig om sy Emmerentia tog net weer aan die lewe te kry.

So kom die troudag en omtrent die hele gemeenskap paas uit toe Emmerentia met haar swart kantrok in die isle afgesweef kom. Sy het nie ‘n druppel grimering aan nie en haar skoongewaste swart hare het sy net met ‘n swart lint in die nek vasgemaak. Sy lyk soos ‘n afgestorwene. Haar bruidegom lyk self soos ‘n spook toe hy haar sien en so wroeg die twee lewende dooies deur die seremonie en onthaal terwyl niemand kan ophou staar na Emmerentia en haar swart kantrok nie. Die rok is beeldskoon – die arme Jodevrou het haarself oortref om te probeer opmaak vir die kleur – maar dis SWART!

Na die bruilof is die twee daar weg Jansenville toe – hul toekoms saam tegemoet. So is daar toe nooit kinders nie, want elke dag doen Emmerentia haar plaasvrou pligte in een van haar swart trourokke en elke aand lees sy vir haar nuwe man een van die seesoldaat se liefdesbriewe wat hy met soveel passie vir haar geskryf het.

Drie jaar later kan die bruidegom van Jansenville dit nie meer hou nie en gaan laai vir Emmerentia by haar ma’le af. Die ding met Emmerentia gaan nie werk nie, sê hy vir die Scheeperse en vertel hulle hoe die huwelik tot dusver verloop het. Hy klim in sy kar en los vir Emmerentia net daar. Haar pa gryp die soetkys wat sy by haar het met al haar swart kantrokke in – behalwe vir die een wat sy aanhet en loop steek die hele soetkys net so aan die brand. Emmerentia druk haar handsak met die liefdesbriewe styf teen haar vas. Sy gaan trek haar swart rok uit en hang dit oor die stoel in haar kamer en sit die handsak met die briewe op die stoel neer. Dan gaan lê sy op haar bed – poedelkaal. Sy voel hoe die trane oor haar wange loop. “Totsiens, my lief!” sug sy as sy vir die handsak kyk en blaas haar asem uit.

Haar ma het haar later so gekry – dood op die bed met haar rouklere oor haar seesoldaat oor die stoel. Sy het die swart kantrok opgerol en in ‘n soetkys gebêre. “Jou oorle’ oumagrootjie het op een of ander manier in die Scheeperse se testament beland en die groen koffer was tussen die klomp goed wat sy geërwe het. Sy het die spul erfgoed van die Scheeperse net so op die solder gebêre – waar jy dit vandag gekry het.”

Ek het gevra hoekom my ouma al die goed hou. Al die goed het stories, het sy gesê en mens gooi nie stories weg nie.

lees meer

‘N TWEEDE KANS – Riaan Palmer

Ek het haar doodgemaak. Jy hoef nie te wonder nie. Daar is geen raaisel, misterie of onoplosbare komplot nie. Ek het die pistool teen haar kop gedruk en die sneller getrek. Natuurlik nie sonder die nodige drama, trane en pleite nie. Daar was bloed orals. Soos ‘n rooi storm na ‘n droë winter.

Dit het natuurlik begin by my eie dood. Ek het apaties in ‘n plas van my eie bloed gesit en wag. My wange was nat van die trane, maar ek het nie meer gehuil nie. Ek het genoeg gehuil voor dit, maar die trane was uiteindelik vir altyd klaar. Ek het ook nie lank gewag nie. Hy’t stadig, statig die vertrek ingestap, presies soos ek hom in my geestesoog gesien het. ‘n Entiteit in swart geklee met die mantel oor sy kop sodat jy nie sy gesig kan sien nie. Net ‘n oneindige swart. Die Dood. Dalk lyk hy soos wat jy verwag hy moet lyk? Hy lyk dalk anders vir elkeen?
Hy’t langs my kom sit, sommer so plat op die grond.
“Hoekom?” Sy stem ingetoë, tog met soveel gesag dat die berge vir seker vir hom sal luister as hy praat.
Hoekom nie? Ek was half ongeduldig, half beskuldigend. Ek het niemand ‘n verduideliking geskuld nie.
Hierdie oomblik was die somtotaal van jare se foute, swakheid en moedswilligheid.

Ek was ‘n alkoholis. As ek nou terugkyk kan ek haar nie blameer dat sy gevra het vir ‘n egskeiding nie. Sy was die liefde van my lewe. En ek was haar ewige liefde. “Ewig”. Elke glas whiskey het haar liefde vir my bietjie-bietjie weggespoel. Na genoeg soebat, smeek, dreig en bottels whiskey word “ewig” ook maar net so lank as wat een vrou nie meer kan nie.
Sarah.
Na die egskeiding het ek nie ophou drink nie. Ses maande terug het Stuart, wat die wêreld se geduld gehad het, ook genoeg gehad en my in die pad gesteek. Ek het mure om my gebou en met woede en verwyte my laaste vriende en selfs familie vervreem. Laas maand het die bank ook genoeg gehad. ‘n Whiskey-asem betaal nie die huispaaiement nie. Hulle het laat weet dat hulle die huis gaan terugvat.
My lewe was in puin en al wie die skuld kon dra was ek. Hierdie was die bodem van ‘n put waaruit niemand ooit sal kan klim nie. Die einde.
Dit is natuurlik net reg dat die whiskey wat my tot by hierdie punt gebring het, my ook die nodige moed gegee het om die pistool teen my kop te sit en die sneller te trek. Natuurlik eers een laaste oproep na haar toe, om jammer te sê vir alles. Sy’t soos soveel keer tevore gesê ek’s dronk, ek moet ophou om haar te bel en die foon doodgedruk. Dit het die finale besluit seker makliker gemaak.
En hier het ek gesit, hopeloos en alleen. Maar ek was nie alleen nie. Nadat ek die sneller getrek het was dit dalk ‘n ewigheid, dalk ‘n breukdeel van ‘n millisekonde. Toe ek opkyk, was hy daar.
‘n Normale mens sou histeries of bang gewees het, maar ek was nie meer normaal nie. Ek was nie verbaas dat hy daar was nie. Nee, ek het hom verwag. Verwelkom.
“Hoekom?”
‘Hoekom nie’ is wat ek wou antwoord. Maar dit was ‘n verligting om hoekoms uiteindelik hardop te sê. “Jy weet sekerlik al die redes. Drank. My swakheid. My foute. Die seer. Ek kan nie meer daarmee saamleef nie. Ek kan nie sonder háár leef nie!”
“Ai, Michael…” Die manier waarop hy dit gesê het, het my weer soos ‘n kind laat voel, asof ek iets gedoen het en daaroor gelieg het. Maar ek het nie nou gelieg nie. Die bewys was in die gemors wat ek op daardie oomblik was.

“Ek is jammer,” het ek gesê. Om watter rede ook al, het ek gevoel dat ek verskoning moet vra.
“Jy’t ‘n leeftyd spandeer om jammer te wees.” Het hy geantwoord. “Jammer vir jouself. Maar jammer beteken niks tensy jy nie jouself vergewe nie.”

Die woorde het in my ore weerklink. Ek het geweet wat hy bedoel het. Hy wou hê dat ek moes sien dat my enigste vyand ekself was.
Jammer.
Jammer dat Joshua verdrink het. Jammer dat Joshua verdrink het toe ek hom moes oppas.
Ek was veertien. Hy was ses.
Ek probeer nou al 25 jaar myself verdrink.

“Gee jy al die siele wat jy kom haal sielkundige raad?” Ek het probeer om hom in die oë te kyk, maar daar was net die eindelose swart waar sy gesig moes wees.

Die Dood het ‘n verleë, kort laggie gegee, “Nee. Dit is meestal net vir diegene soos jý wat dit in eie hande neem om die lot te bepaal. Dit hang egter nie van jou af nie.”
“So, jy gee raad aan selfmoord slagoffers. Dis nou bietjie laat, dink jy nie so nie?”
Hy’t diep gesug, asof hy dit al duisende kere vantevore verduidelik het. Hy het sekerlik. “Daar moet ‘n balans wees in die heelal. Goed en sleg. Die lewe. Die dood. Redes. ‘n Ewewig. Ek wil net vir jou ‘n ander perspektief gee.”

“Watter perspektief sou dit wees? Die enigste werklikheid wat ek sien, is dat ek ‘n aaklige verskoning van ‘n mens is. Hoekom moet ek bang wees vir die dood? Dit kan nie moeiliker wees as die lewe nie. Dit is al wat daar vir my oor is.”
“Ek wys jou net hoe die lewe kán wees.”
“Gmf. Waarvoor moet ek lewe?” My stem was hard, kwaad, maar dit het geen effek op die donker figuur voor my gehad nie.
Hy’t met verrassende geduld bly praat. “Wat as ek jou vertel dat jy dit deur hierdie depressie sou maak? Dat jy uiteindelik deur hulp en terapie jouself kon vergewe vir jou broer se dood. Wat as ek jou vertel dat omdat jy hierdie depressie sal oorkom, jy weer ‘n werk sal kry, en dat jy baie suksesvol sou wees in die pos? Uiteindelik, sou jou vriende, familie en ook jou eks gesien het dat jy nugter is en jou lewe omgekeer het. Hulle sou trots wees op jou. Jy sal nie na ‘n bottel whiskey kyk sonder om siek te wees nie. Sarah sal weer met jou begin praat en julle liefde sal weer vlam vat. Uiteindelik sal julle weer trou en twee pragtige kinders die wêreld inbring. Wat as ek jou sou vertel dat jy die beste deel van jou lewe sou misloop deur te kies om op te gee?”
Die trane was weer terug. Trane van blydskap. Hoop. Sarah. Kinders. “Regtig? Sou ek regtig weer geluk geken het? Hoekom vertel jy my dit alles?”
“Wil jy daai lewe ken?” Die Dood se stem was vol belofte van hoop.
“Ek wil lewe.”

Toe ek wakker word was haar gesig die eerste ding wat ek sien. Sarah. Sy het verduidelik dat die koeël wonderbaarlik geen permanente skade aan my brein verrig het nie. Ek gaan leef.
Ek het geleef.
Ek het na terapie en behandeling weer die wêreld aangedurf. Ek het my broer se dood verwerk en myself vergewe.
Sarah het my toegelaat om in haar spaarkamer te bly totdat ek weer op my voete was. Ek het die lewe aangedurf met ongekende energie en ‘n wil om te lewe. Ek het uiteindelik werk gekry en ‘n totale sukses daarvan gemaak. Na 2 jaar sonder ‘n druppel drank oor my lippe het Sarah ingestem om weer met my te trou. Binne ‘n jaar was sy verwagtend en ‘n tweeling het my oneindige vreugde gebring. Die lewe was ‘n lied.
Vir ‘n oomblik.

Sarah was na die tweeling se geboorte…anders. Ek het dadelik die simptome herken. Die onttrekking. Die konstante hartseer. Verlies aan eetlus en belangstelling. Sy het die tweeling soveel vermy as wat sy kon.
Depressie.
Ek het Sarah gedwing om my sielkundige te gaan sien en die dokter het bevestig wat ek vermoed het. Postnatale depressie. Sy het vir Sarah medikasie voorgeskryf en afsprake twee keer ‘n week gereël.

Maar dit was te laat.
Dit was net na twee die oggend en die tweeling was aan die huil. Sarah het opgestaan om hulle melk te gee. Ek het vinnig weer aan die slaap geraak toe die tweeling stil word. Sowat ‘n uur later het ek weer wakker geskrik van…ek weet nie. Maar iets was fout. Sarah was nog nie terug in die bed nie. Ek het haastig opgestaan en na die donker babakamer gestrompel. Sarah het emosieloos in ‘n bondeltjie voor die kot gesit met haar knieë opgetrek tot onder haar ken. ‘n Kussing in haar hande vasgeklem.
“Sarah?” ‘n Koue angs het my omsingel, deurdring en in my beendere gekruip. Ek het die lig aangesit en met ‘n doodsvrees tot by die kot geloop. Die tweeling het doodstil gelê.
Dood. Stil.
Die trane het vrylik oor my wange geloop terwyl ek my hand uitgesteek het en oor die yskoue liggaampies gevryf het.
“Nee…Sarah…NEE!” My bene het onder my ingegee en ek het inmekaargesak. Totaal lam van die skok.
“Hulle wou nie ophou huil nie.” Het Sarah in ‘n saaklike stem gesê en die kussing – die moordwapen – teen haar vasgedruk.

My hele lyf het geruk van die snikke en ek het besete roepe van pyn geskreeu – soos die van ‘n dier. Ek het ‘n hand op my skouer gevoel en ontsteld my lyf weggeruk. Toe ek opkyk, kyk ek in die diep swart niks waar Die Dood se gesig moes wees.
Ek was terug in die vertrek waar ek myself geskiet het, 3 jaar gelede. Asof daar nie ‘n sekonde verloop het nie. Ek het steeds in die plas bloed gesit wat net groter geword het. Was dit alles ‘n droom? Is dit alles ‘n hallusinasie as gevolg van breinskade van die skoot deur die kop?
“Nee.” Het die Dood gesê asof hy my gedagtes gelees het. “Dit is jou lewe as jy besluit om te leef.”
Ek het manies gelag.
“Watse soort besluit is dit?! Ek kan mos onmoontlik nie dáái besluit maak nie! Drie jaar van herstel en geluk en vrede vir my siel, en dan…” Ek kon die tweeling so duidelik soos daglig in my gedagtes sien. Voel. Ruik. Asof ek sekondes gelede nog aan hulle gevat het. Nou koud. Leweloos. “Jy’t dan die gesprek begin deur te sê ‘dit hang nie van my af nie’… En nou verwag jy ek moet ‘n keuse maak?”
“Ja en nee. As ek sê dit hang nie van jou af nie, bedoel ek die balans hang nie van jou af nie. Die universele balans. Elke aksie het ‘n reaksie. Begin. Einde. Goed. Sleg. Lewe. Dood. Balans. Jy’t keuses, maar die balans sal áltyd daar wees.”

Mens sou dink dit is ‘n maklike keuse om te maak. Dat ek eerder sou kies om dood te wees as wat ek my kinders se lyke kry… My kinders, wat deur die liefde van my lewe vermoor was. Dis mos maklik. Kies die dood voor ek weer dit moes beleef.
Maar ek het nie die dood gekies nie.
Alles het gebeur soos die vorige keer. Ek het oorleef. Uit die put geklim en my lewe weer opgebou van die grond af op. Soos die vorige keer was Sarah daar vir my. Soos die vorige keer het ek haar uiteindelik gevra om weer te trou. Soos die vorige keer was sy verwagtend. Met ‘n tweeling.
Ek weet nie of sy dit kon aanvoel nie. Ek het my bes gedoen om die part te speel van die verlore, gebroke, verliefde man. Maar diep binne my was ‘n oneindige woede. ‘n Haat. Ek kon nie die toneel uit my gedagtes kry van Sarah wat in die donker voor die kot sit nie. My liewe, onskuldige kinders in die kot. Leweloos. Sarah wat hulle vermoor het. Dit het in my bly draai en kolk; soos ‘n kanker gegroei en gesweer. Ek kon haar nie vergewe nie.
Maar ek kon dit keer.

‘n Week na die geboorte van die tweeling het ek ons slaapkamer ingestap met die pistool. Ek het die koue staal teen ‘n verskrikte Sarah se kop gedruk.
“Jy is ‘n moordenaar. ‘n Monster.”, het ek koud gesê en die sneller getrek. 3 jaar se woede, haat, afsku wat gelei het tot daardie oomblik.
Toe ek omdraai staan Die Dood daar. Alhoewel ek nie sy gesig kon sien nie, kon ek die hartseer en teleurstelling voel.
“Sien. Ek kan kies.” Ek het vir hom gegrynslag. Ek was ver verby waansinnig. Verby terugkeer. “Jy soek ‘n dood vir ‘n lewe. Dáár. Redes? Dáár is jou redes. Balans? Dáár is jou balans.”
‘n Put sonder ‘n begin of ‘n einde.
Sonder om vir ‘n antwoord te wag het ek na die babakamer begin stap om die tweeling te gaan troos.
Ek het uiteindelik verstaan. Dit was nie ‘n droom nie. Dit was nie ‘n hallusinasie of breinskade nie. Daar was net een moontlike antwoord. Die hel.

lees meer